Luister: Wonderboom raas weer ná lang stilte

Wonderboom (Foto: Facebook)

Die ervare Suid-Afrikaanse rockgroep Wonderboom was vir ’n geruime tyd stil – sewe jaar om presies te wees.

Die stilte is egter einde verlede jaar verbreek en Wonderboom raas nou harder as ooit met ’n nuwe album, opkomende toer asook hul opening vir ’n legendariese internasionale rockgroep later vanjaar.

Dié opening is ’n groot toekenning vir die rockgroep van 22 jaar met nege albums agter sy naam, vertel Martin Cito Otto, bekend as Cito, en Martin Schofield van Wonderboom in ’n onderhoud met Maroela Media.

“Sewe jaar is ’n groot gaping, maar ons het ons tyd gevat om te doen wat ons wou op die nuwe album,” erken Martin.

Cito verduidelik dat die onverwagse dood van die groep se dromspeler, Garth Mcleod, in 2013 beslis ’n groot rede agter Wonderboom se stilte was. Hy erken dat dit kompleet was of hulle ’n nuwe groep moes begin toe Jonathan Bell daarna as dromspeler moes oorneem. Wonderboom se kenmerkende klank het egter deurlopend dieselfde gebly.

Nou sien Wonderboom uit daarna om die pad te vat en sy nuwe album, Rising Sun, bekend te stel. “Ná 22 jaar van ruk en rol, het ons aanhangers ’n verduideliking nodig,” glo Cito. En dit is presies wat The Best Side Story-toer aanhangers gaan bied.

Foto: Facebook

Wonderboom gaan in September toer en verskeie dorpe en stede oor die hele land besoek. Cito vertel dat dié toer verskil van hul vorige konserte aangesien dit ’n meer intieme en akoestiese konsert gaan wees. Hulle wil graag die stories agter die groep, die liedjies en die skryfproses deur die loop van die konsert met gehore deel. “Ons het ’n interessante konsert wat ons wil aanbied.”

Rising Sun het in November verlede jaar eindelik sy opwagting gemaak. En sowat twee maande gelede is die musiekvideo van die groep se enkelsnit, “Praying Mantis”, bekendgestel.

Cito vertel dat hulle beslis baie trots op dié album is. Hy verduidelik dat die verskil tussen Rising Sun en hul vorige albums juis die feit is dat hulle hul tyd geneem het met die opneem van die album. “Ons was nog nooit so noukeurig nie.”

Hy glo dat Wonderboom ’n baie volwasse album opgeneem het. “Ons was nie ongeduldig om dit vry te stel nie. Ons is nie net soort van tevrede daarmee nie. Ons is heeltemal tevrede daarmee.”

Die enkelsnit “Praying Mantis” kom uit Cito en Martin se pen en gaan oor ’n slegte vrou, skerts Martin. Hy vertel dat hulle baie pret gehad het met die liriek. “Dié lied het donker gevoel met baie danselemente,” verduidelik hy.

“As geheel is dit baie verteenwoordigend van verlede jaar toe ek en Cito so te sê in mekaar se brein was. Dit is ’n ware manifestasie van ’n 50/50-skryfvennootskap.”

’n Nuwe album en toer is ook nie die enigste vooruitsig vir die ervare Suid-Afrikaanse rockgroep nie. Wonderboom sal vir die internasionale rockgroep Guns N Roses open wanneer hulle in November vanjaar in Suid-Afrika optree. Albei erken dat dié groep beslis ’n groot invloed op hulle as musikante gehad het. Luister hoe hulle vertel van die oomblik toe Martin die opwindende oproep van Big Concerts ontvang het.

Wonderboom se Rising Sun is op alle digitale platforms beskikbaar. Besoek ook Wonderboom se Facebookblad en webwerf vir besonderhede oor die groep se The Best Side Story-toer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.