Luister: Wynand Strydom vereer Koos Doep

Wynand Strydom het hom die afgelope 15 jaar as gewilde sanger in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig.

Sy jongste album, Skielik is jy vry, is ʼn treffende huldeblyk aan die legendariese Afrikaanse musikant, Koos du Plessis.

“Ek het grootgeword met Koos Doep en was nog altyd lief vir sy musiek,” vertel Strydom in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Toe ek destyds in die onderwys was en nog nie gesing het nie, het ek nie geweet watse invloed hy vorentoe op my musiek sou hê nie. Toe ek begin sing, het ek uit die aard van die saak baie van sy liedjies opgeneem, want ek het regtig baie aanklank daarby gevind. Ek het altyd gevoel êrens in my lewe wil ek graag ʼn ordentlike album maak wat hulde bring aan sy musiek.”

Dit was vir die sanger belangrik om sy weergawes van Du Plessis se musiek so na moontlik aan die oorspronklike weergawes te hou. “Ek het gevoel ek moet die musiek met die nodige sensitiwiteit hanteer, want dit gaan vir my nie noodwendig oor Wynand Strydom wat sy liedjies sing nie, maar absoluut oor die lirieke van Koos Doep.”

Strydom vertel dit was van die begin af sy fokuspunt dat mense, veral die jonger generasie wat nie die musiek van Du Plessis goed ken nie, weer opnuut blootgestel word aan sy musiek en lirieke.

“Ek voel ek het regtig daarin geslaag wat die album betref. Daar is 16 snitte op en dit is maar bekendes soos ‘Kinders van die wind’, ‘Gebed’ en ‘Sprokie vir ʼn stadskind’, maar ek wou graag sy minder bekende liedjies ook sing en mense weer daarvan bewus maak.”

Hy vertel dit was ʼn baie moeilike proses om te kies watter snitte die album sou haal. “Ek kan seker drie albums maak met die musiek van Koos Doep,” skerts hy.

“Ek het al reaksies op sommige liedjies gekry waar selfs geharde Koos Doep-kenners vir my gesê het hulle het nie geweet hy het hierdie of daardie liedjie gesing nie. Dit is juis wat ek wou gehad het – om vir mense te wys daar is baie van sy musiek wat ons nog nie ken nie.”

Wynand Strydom. (Foto: Verskaf)

Wynand Strydom. (Foto: Verskaf)

Dit was ʼn amateurmusiekvideo van ʼn vorige opname van die liedjie “Skielik is jy vry” wat soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het wat die saadjie van ʼn huldeblykalbum in Strydom se hart geplant het. Dié video is deur sy vrou, die country-sangeres Cheree Strydom, op Langebaan geskiet.

“Die reaksie op die video was oorweldigend en dit is meer as 1 miljoen keer op Facebook gekyk. Ek het toe al besef dit is die regte tyd vir die Koos Doep-album. “Skielik is jy vry” is net een van daardie liedjies wat universeel is. Ek sê altyd vir mense ons het almal baie probleme en dinge waaroor ons moet kom. Vir party van ons is dit ʼn dag-vir-dag-ding.”

Toe sy pa in September verlede jaar ná ʼn lang siekbed aan kanker oorlede is, het die betekenis van die liedjie weer by hom posgevat.

“My pa het gely weens kanker en toe hy oorlede is, is hy vrygemaak van die seer. Die titelsnit spreek tot mense. Dit is die wonderlike ding van Koos Doep: Ons het dikwels ʼn opvatting van watter soort ou hy was, maar dat daar waarhede in sy lirieke was, is beslis só.”

Hy verklap opgewonde dat hy en Cheree die huldeblykalbum se musiek in ʼn teaterstuk omskep.

“Ek dink met Koos regverdig dit die aandag en tyd om dit in ʼn produksie te omskep. Ons is besig om die konsep vir die teaterstuk reg te kry. Dit is ʼn redelik akoestiese produksie, maar ons wil meer stories inbring sodat die vertoning vir die gehoor insiggewend is en mense oor hom kan leer.”

Die musiekvideo vir die liedjie “Gebed”, wat by Riebeek-Kasteel in die Kaap geskiet is, is ook onlangs bekendgestel. “Die wonderlike ding van Koos se lirieke is dat dit nie baie fieterjasies nodig het nie. Ek het die video, net soos die albumopname, baie minimalisties gehou. Die liedjie ‘Gebed’ is alombekend en as jy jou oë toemaak, is dit die lirieke wat met jou praat.”

Skielik is jy vry is beskikbaar by groot musiekhandelaars asook aanlyn by iTunes en JOOX.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Thersia ·

Koos du Plessis het Laerskool Bakenkop in Centurion se skoollied geskryf. En wat n praglied is dit nie!

JAN ·

Koos Dup se kuns is verreweg die beste in Afrikaans. Die Volk se geestelike tuiste soos min.
Herman Charles Bosman het hierdie multidimensionele karakter van die Afrikaner Boer
soos Koos beskryf in die beste engelse prosa ooit. HCB word beskou as een van 5 top inglese skrywers saam met Shakespeare en Keat Bacon oa.
Koos Dup se werk kan maar vertaal word naar dis onmoontlik.
Nou stuur ons maar sy CD’s na die kinders oorsee
Wanneer daar nie meer trane is nie

Bloudrm ·

As jy Wynand Strydom se plaat op 78 rpm luister dan sing hy nog steeds laer as Elvis Blue.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.