Luister: Zita Pretorius terug met nuwe enkelsnit (en stilletjies getroud!)

Zita Pretorius, die blondekop sopraan wat in 2011 die Afrikaanse musiekbedryf stormgeloop het en reeds in die jaar daarna vir ʼn Ghoema- en ʼn Tempo-toekenning benoem is vir haar debuutsolo, Skakerings van dagbreek, het vir ʼn ruk haarself op musiek- en teaterproduksies toegespits, maar is nou weer terug met ʼn splinternuwe enkelsnit, “Begin weer”.

Die sangeres wat ongeveer ʼn jaar en ʼn half gelede deur die bekroonde liedjieskrywer Johan Oberholzer genader is met ʼn rits enkelsnitte, vertel in ʼn ateljeeonderhoud met Maroela Media dat sy dadelik verlief geraak het op “Begin weer” toe dit aan haar voorgelê is.

“Dit is ʼn ongelooflike stuk musiek en ons het soveel moeite gedoen met die verwerking daarvan. Wat merkwaardig is van die stuk is dat daar vier transposisies is en al word dit nie noodwendig gehoor nie is daardie soort musiek altyd vir my interessant en trek dit my aan. Ek het uit die aard van die saak die geleentheid aangegryp,” vertel Pretorius.

Boonop kan sy haar met die lirieke en die boodskap van die snit vereenselwig. “Ek dink almal kom op ʼn stadium in hulle lewens waar hulle moet oor begin. Of dit nou in jou werk of persoonlike lewe is, of as jy iemand aan die dood moes afstaan. Dit is wat die liedjie vir my so besonders maak, want dit is so universeel en ander kan ook daarby aanklank vind.”

Zita en haar man, Eddie Clayton, in rustige luim op pad plaas toe. (Foto: Instagram via Zita Pretorius)

Zita en haar man, Eddie Clayton, in rustige luim op pad plaas toe. (Foto: Instagram via Zita Pretorius)

Pretorius verklap dat sy in Desember op Oukersaand stilletjies getroud is met Eddie Clayton, ʼn dirigent, komponis en musiekregisseur.

“Ons het dit baie stil gehou. Dit was ʼn familietroue en daar was net 20 gaste. Dit was ʼn ongelooflike lekker familiegeleentheid en dit was baie klein en intiem,” vertel sy stralend.

Die afgelope paar jaar het sy haar toegespits op musiekteaterproduksies. Sy was solis vir die Gauteng Operageselskap in produksies soos L’elisir d’amore, Cula Mzansi, Cradle under the Shade, Don Pasquale en La bohème.

“Die musiekteater het toe in volwaardige Afrikaanse teater oorgespoel. Frans Swart het my gesien in een van dié produksies en my gevra of ek belang sal stel om suiwer teater te doen,” vertel sy oor haar rol as Saskia Wilkinson in die Frans Swart-klug My oom se vrou se plekkie.

Zita Pretorius.

Zita Pretorius.

“Dit was my heel eerste klug en die tempo waarteen alles gebeur is heeltemal anders as in opera of musiekteater. Dit het my horisonne verbreed,” sê Pretorius.

Sy is ook in Julie in die Staatsteater in Pretoria op die planke te sien in die jongste verwerking van Aspoestertjie. “Ek is verskriklik opgewonde om deel van hierdie produksie te wees. Ons het ʼn span ongelooflike musiekregisseurs en vervaardigers wat betrokke is en dit is lekker om dan weer musiek en teater op een platform te kan doen.”

Pretorius se aanhangers kan ook binnekort weer ʼn vollengte album van dié blondekop sopraan verwag. “My sangloopbaan is glad nie iets van die verlede nie. Ek doen ook ongelooflik baie optredes hierdie jaar. Ek kombineer dit met die musiekteater en dit maak my lewe baie bedrywig, maar dit is heerlik!”

“Begin weer” is beskikbaar vir aankope op alle digitale platforms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Smirre ·

Wens haar geluk toe sy moet net oppas vir leef jou reis….

Linda ·

Wonder maar net vir hoe lank gaan hierdie huwelik hou ?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.