Lukraaketaar ná 14 jaar terug op Afrikaanse musiektoneel

Lukraaketaar op 1 Maart 2006 by Café Barcelona in Pretoria. (Foto: Liam Lynch/Verskaf)

Lukraaketaar op 1 Maart 2006 by Café Barcelona in Pretoria. (Foto: Liam Lynch/Verskaf)

Die akoestiese musiekduo Lukraaketaar, wat destyds groot opslae gemaak het in die Afrikaanse musiekbedryf met treffers soos “Om te kan” en “Taranangi Junkie”, is ná meer as ʼn dekade terug op die musiektoneel met twee splinternuwe enkelsnitte.

Dié duo bestaan uit Pierre Greeff, deesdae bekend as die voorsanger van Die Heuwels Fantasties, en Alwyn Kotzé, wat mekaar jare gelede op Stellenbosch ontmoet en saam begin musiek maak het. Die groep se twee jongste snitte, getiteld “Verinneweer” en “Hou My”, is pas uitgereik.

Volgens Greeff het hy en Kotzé oor ʼn paar biere besluit om weer saam musiek te maak nadat Neil van Deventer, die rolprentregisseur en goeie vriend van Kotzé, hom herinner het aan die liedjie “Hou my”, wat Kotzé sowat sewe jaar gelede reeds geskryf het, maar nooit opgeneem het nie.

“Op daardie stadium het ek net begin skryf aan die liedjie ‘Verrinneweer’ en dit het my dadelik laat voel soos iets wat ons saam sou kon opneem. ʼn Whatsapp-boodskap of twee later oor die moontlikheid dat ons weer ietsie saam kan opneem en siedaar,” vertel Greeff.

Die snitte is opgeneem by Greeff, Hunter Kennedy en Fred den Hartog van Die Heuwels Fantasties se ateljee in Kaapstad. Den Hartog en Loki Rothman het die vervaardiging behartig.

Lukraaketaar op 3 Maart 2006 by Teenjeberg, Rustenberg. (Foto: Liam Lynch/Verskaf)

Lukraaketaar op 3 Maart 2006 by Teenjeberg, Rustenberg. (Foto: Liam Lynch/Verskaf)

“Baie heimwee en min moeite is wat luisteraars in dié snitte sal hoor en hopelik sal ons ou en nuwe aanhangers iets lekker uit hierdie melodieë en harmonieë kry,” voeg Greeff by.

Greeff beskryf hul lirieke as “sielvol” en hul musiek as “akoesties met skop”. Die groep se naam, Lukraaketaar, is ʼn kombinasie van twee woorde: lukraak, wat beteken toeval, geluk, na willekeur; en ketaar, wat volgens hulle ʼn woordspeling op “kitaar” en “kommentaar” is.

Die duo se eerste sewesnitkortspeler, Fop Genade, is in 2005 uitgereik en ʼn selfgetitelde vollengte album Lukraaketaar het in 2008 gevolg.

Die musiekvideo’s vir “Om te kan” en “Taranangi Junkie” is saam reeds meer as sestig duisend keer op YouTube gekyk. Die gewilde DStv- musiekplatform MK, wat in 2005 begin uitsaai het, het dié video’s gereeld uitgesaai en dit het tot die groep se sukses bygedra.

“Verrinneweer” en “Hou my” is beskikbaar op iTunes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.