Luna Paige steeds agter die klawers ná twee dekades

Luna Paige. (Foto: Jessica Botha)

Die musikant en liedjieskrywer Luna Paige skryf haar langdurige en suksesvolle musiekloopbaan toe aan die lojale ondersteuning van haar aanhangers.

“Sedert ek as jong musikant begin vertonings lewer het, het ek nog altyd ʼn ouer, meer gesofistikeerde gehoor wat baie lojaal is teenoor my,” sê die sangeres, wat spog met vyf solo-albums, een samewerkingsalbum en verskeie enkelsnituitreikings.

Benewens haar musikale prestasies is sy ook ʼn bemarker en ʼn gekwalifiseerde maatskaplike werker.

Die veelsydige kunstenaar stel binnekort die verskillende fasette van haar musiek met twee nuwe vollengte-albums ten toon.

ʼn Afrikaanse album getiteld Dis die dors en ʼn Engelse album met die titel Harmony word gelyktydig op 5 April uitgereik. Die albums kan vooraf bestel word en sodoende kan aanhangers bydra tot die skarebefondsingsveldtog wat dié albums moontlik maak.

Luna Paige sê dit is juis ʼn lojale groep aanhangers wat die afgelope twee dekades haar musiekloopbaan moontlik maak en ondersteun.

“Ek word nog altyd deur mense in ʼn sekere kategorie geplaas. Sodra mense uiteindelik hoor hoe ek klink, hou hulle gewoonlik van wat hulle hoor. Dis nie asof die musiek buitensporig vreemd is nie. Wat ek wel beslis nie is nie, is ʼn Afrikaanse popster. Mens kan egter van popmusiek en iemand soos Norah Jones gelyktydig hou,” verduidelik sy.

Sy lag oor die groot taak om twee albums gelyktydig op te neem en uit te reik. “Ek het nie besef waarvoor ek myself inlaat nie. Ek pak nie baie projekte aan nie, maar wanneer ek dit doen, gaan ek groot.”

Sy sê sy het tydens die Covid-19-pandemie genoeg alleentyd vir selfondersoek gehad en waar sy voorheen oorwegend oor die liefde geskryf het, skryf sy nou ook meer oor ander ernstige temas en onderwerpe.

“Nietemin is die musiek en melodieë dié slag weer ligter as voorheen en beweeg dit amper tussen genres. Dit was beslis onbepland.”

Luna Paige. (Foto: Hannie du Plessis)

Sy erken dit was vir haar moeilik om die digitale era van musiek te omarm en sy het aanvanklik vasgeskop teen die gebruik van stromingsplatforms.

“Ek moet ruiterlik erken dat ek nou weer besluit het om terug te keer na die digitale platforms, maar ek gaan ook ʼn paar CD’s en plate beskikbaar maak.”

“Dis die dors” is die titelsnit van die Afrikaanse album, en handel oor ʼn dors vir die lewe en dit wat ʼn mens dryf.

Volgens Luna Paige bevat Dis die dors verskeie wêreldmusiekelemente en het ʼn folk rock-ondertoon, met ʼn Sheryl Crow-tipe rock-aanslag.

“Die snit ‘Baadjies wat ons dra’ laat my dink aan Piet Botha as ek dit sing. Die liedjie is beslis beïnvloed deur Neil Young en het ʼn old school rock-gevoel.”

Die Engelse album, Harmony, handel in ʼn neutedop oor die balans tussen die wêreld en die natuur en dat mense soms verwyderd voel van die natuur.

Sy sê daar is twee fasette van haarself as kunstenaar, en daarom het sy besluit om in Engels en Afrikaans te skryf.

“My instink was altyd om in Engels te skryf, omdat ek van kleins af baie Engelse invloede gehad het al is ek Afrikaanssprekend. Ek het aanvanklik ook altyd net in Engels gesing en eers in 2012 my eerste opnames in Afrikaans gedoen.

“Ek het agtergekom as ek in Afrikaans skryf, is dit asof daar ʼn ander tipe liedjie gebore word en daar is vir my iets spesiaals daaraan.”

Konserte

In aanloop tot die uitreiking van die twee albums hou Luna Paige twee massiewe konserte in Stellenbosch.

Op Sondag 25 Februarie is sy te sien by The Daisy Jones Bar in die verhoogproduksie Storielied, met Jonno Sweetman op tromme, Schalk Joubert op baskitaar, Willem Moller op kitaar, Nicole Holm, Lara Kinnear en Nathan Lewis op stemme, Anjulie Nock op tjello, en Jan-Hendrik Harley op altviool.

Luna begelei haarself op elektroniese klavier en akoestiese kitaar. Kaartjies kos R175 en is beskikbaar by Quicket.

Op Saterdag 16 Maart is sy ook saam met die ikoniese Nederlandse sanger Stef Bos op die ouditoriumverhoog by die Adam Small-kompleks. Kaartjies kos R295 en is by Quicket beskikbaar.

Schalk Joubert en Mauritz Lotz is ook in die konsert te sien, wat ten bate van die Health Promotors-organisasie gehou word. Luna Paige is ʼn ambassadeur vir dié organisasie.

“Dit is vir my ʼn fantastiese geleentheid om ʼn verhoog met Stef Bos te deel. Ek het hom as 20-jarige ontmoet toe ek in 2000 my debuut gemaak het en dit is ʼn voorreg om ʼn konsert ten bate van ʼn organisasie sonder winsbejag saam met hom aan te bied.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.