Maak ‘n wens – Bobby van Jaarsveld

Bobby-van-Jaarsveld-se-Maak-n-wens-album

Dit is nou byna tien jaar later en Bobby van Jaarsveld bly Suid-Afrikaanse gehore bekoor met sy musiek. Foto: Bobby van Jaarsveld se Facebook-blad.

Dis moeilik om te glo dat daar nou al byna tien jaar verloop het sedert ‘n 17-jarige hoërskoolseun van Brits op die Afrikaanse musiektoneel verskyn het.

Nadat hy die hoofrol in die rolprent Liefling vertolk het, het Bobby van Jaarsveld  een van Suid-Afrika se heel gewildste kunstenaars geword, en sy jongste album, Maak ‘n wens, is teen die einde van verlede jaar vrygestel.  Die eerste snit vanaf dié album is ook die eerste treffer; My alles, wat deur Johan Oberholzer geskryf is.  Dit is maklik om te verstaan hoekom dit so gewild geword het, want enige vrou wens sekerlik dat die man in har lewe dit vir haar sê.  Bobby het  Dis wat jy aan my doen saam met Ewald Coleske geskryf, en dit is nog ‘n moontlike treffer.  Die volgende snit op die album, Een vir een, is nog ‘n komposisie van Johan Oberholzer.  Eden sing saam met hom op Butterlflies, wat die tweede treffersnit vanaf die album behoort te wees. Dit kom ook op Eden se album voor, asook op Afrikaans is groot Volume 7.  Dit is ‘n spanpoging van Ewald Coleske, Christoph Kotze en Johan Vorster, en dit behoort baie gewild te word. Die kitaarwerk op hierdie snit is besonder goed en die refrein sal jou vinnig saam laat sing.  Storieman is lekker nostalgies, en gaan oor twee mense wat mekaar as kinders geken het, maar uitmekaar gegaan het.

Die titelsnit is deur Johan Vorster geskryf en gaan byna verseker ook nog een van die treffers vanaf die album word.  Beter helfte is nog ‘n komposisie van Johan Oberholzer.  Bobby kan self ook komponeer en lirieke skryf,  soos hy op Reuse bewys.  Hierdie snit is die enigste een waarvan die lirieke op die omslag voorkom; die ander lirieke is op Bobby se webtuiste te sien.  Elke minuut is ‘n pragtige snit wat deur Johan Oberholzer geskryf is.  Die kitaarwerk op Dit is hier, nog ‘n komposisie van Johan Oberholzer, is baie goed.  Bobby het Dis ons huis saam met Ewald Coleske geskryf, en weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Die laaste snit op die album (as ‘n mens die bonussnitte buite rekening laat) is die pragtige Jy sê nie meer nie, wat Bobby saam met Ewald en Arnold Coleske geskryf het.

Twee van die bonussnitte het in die rolprent As jy sing voorgekom. Totaal finaal was een van die groot treffers vanaf die album. Die ander een was Ek moes jou gesoen het, wat eintlik Leah se treffer was, maar waarop Bobby in die agtergrond gesing het. Die laaste bonussnit is Toe ons jonk was, waarop Bobby se suster Karlien saam met hom sing. Dis eintlik eienaardig dat hiedie snit nog nie ‘n radiotreffer geword het nie. Karlien het dit saam met Johan Vorster geskryf, en dit is nie dieselfde as Elvis Blue se liedjie met dieselde titel nie.

Hoewel hierdie album reeds teen die einde van verlede jaar vrygestel is, is daar geen twyfel dat dit nog lank gewild gaan wees nie. Benewens My alles is daar nog ‘n hele aantal moontlike treffers wat sal maak dat dit nog lank een van ons land se gewildste albums sal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.