Maart bring ʼn keur van klassieke musiekvertonings

Van ʼn sensoriese teaterervaring en ʼn strykkonsert, tot ʼn Paasoratorium, konserte ten bate van skilpaaie en ʼn musiekfees. Maroela Media bied aan klassieke musiekliefhebbers ʼn voorsmakie van vertonings wat in Maart aangebied word.

Birth of a new moon

Met nuwe komposisies en werke van bekende komponiste soos Havasi, Vangelis en Hans Zimmer, skep Christo Burger met Akustika as wêreldbekroonde koor ʼn unieke teatervertoning met koor- en rolprentmusiek, beligting en visuele elemente.

Dié nuwe musiekgedrewe produksie heet Birth of a new moon en dit volg op Night of a dying sun wat verskeie uitverkoopte vertonings gehad het.

“Dit gaan voel asof jy in ʼn fliekteater sit en die musiek deur sterk visuele elemente ervaar. Mense wat gereeld die teater besoek gaan nie weet wat hulle tref nie. Dit gaan ʼn epiese ervaring wees,” verseker Christo.

Birth of a new moon word by die Atterbury Teater in Pretoria aangebied. Die vertonings begin op 3 en 4 Maart om 19:00 en op 5 Maart om 15:00. Kaartjies kos R350 en dit is by Seatme beskikbaar.

Vox Chamber Choir (Foto: Verskaf)

Kruis van liefde

Die bekroonde dirigent, Franco Prinsloo, se Paasoratorium, Kruis van liefde, word op 15 Maart vir die eerste keer vir die publiek aangebied. Vox Chamber Choir voer die oratorium, onder leiding van Franco, uit by die NG Universiteitsoord in Pretoria.

Weens die Covid-19-pandemie is Kruis van liefde se debuutuitvoering in 2021 vir ʼn uitgesoekte gehoor van 50 mediagaste aangebied.

Volgens Andries Brummer, die koor se organiseerder, kan musiek eers kuns word wanneer ʼn waarderende gehoor die boodskap ontvang.

Kruis van liefde se Paasboodskap is emosioneel baie kragtig, en die gehoor kan uitsien na ʼn musikale belewenis van die Paasverhaal. Franco se meesleurende toonsetting maak gebruik van ʼn klein ensemble bestaande uit onder andere pyporrel, marimba, keteltromme, buisklokke en bykomende slagwerk.”

Die konsert begin op 15 Maart om 19:00. Kaartjies kos R150 (aanlyn) en R180 (by die deur), en dit is by Tixsa of op die aand van die vertoning by die deur beskikbaar.

Konserte ten bate van skilpaaie

Suid-Afrikaners kan in Maart vertonings van die internasionaal bekroonde kamerensemble Schönbrunn Palace Orchestra bywoon wanneer dié orkes se eksklusiewe konserttoer in Maputo, Mosambiek, begin en daarna deur Suid-Afrika reis.

Fire Island Conservation bied die klassieke musiekkonsert, Symphony in Sea Major, aan met die doel om geld vir die bewaring van mariene en natuurlewe in te samel.

Dit is die eerste keer dat Schönbrunn Palace Orchestra, wat Europese gehore sedert 1997 met sopraan- en baritonuitvoerings bekoor, in Afrika optree. Die orkes tree in verskeie publieke en private vertonings op, by venues soos die Nasionale Krugerwildtuin, die magiese Drakensberge, die historiese Karoo en Kaapstad.

Besoek Fire Island Conservation se webwerf om meer oor Symphony in Sea Major se toerdatums, venues en kaartjieverkope te wete te kom.

Schönbrunn Palace Orchestra (Foto: Verskaf)

Aardklop Aubade se Strykers Galore!

Momentum Beleggings Aardklop Aubade se Sondagoggend-konsertreeks begin op 12 Maart met Strykers Galore!, ʼn strykkonsert deur Reuben van Nieuwenhuizen en Serendipity Strings.

Reuben is in 2022 as die junior algehele wenner van die Il Vento-kompetisie aangewys. Hy is ʼn gr. 10-leerder by Pretoria Boys High School. Gisela Scriba begelei sy program vir hierdie konsert en sluit uitvoerings van werke deur Mendelssohn, Vivaldi en Gardel in.

Mietze Dill het Serendipity Strings in 2015 gestig om uiting te gee aan die vreugde, passie, hoop en selfs donkerte wat deur kamermusiek verteenwoordig word. Die groep is later die maand ook by die Wakkerstroom Musiekfees te sien. Lede wat by Strykers Galore! optree, is Carli d’Alebout (viool), Friederike Scholtz (altviool), Mietze Dill (tjello) en Leandra Mans (klavier). Hulle program bevat uitvoerings van werke deur Schumann, Debussy, Elgar en Gershwin.

Die voorprogram word aangebied deur Rutger Enslin (klavier), ʼn matrikulant van die Afrikaanse Hoër Seunskool.

Strykers Galore! vind by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria plaas. Die vertoning begin op 12 Maart om 11:00. Kaartjiepryse wissel tussen R100 en R190 en dit is by Ticketpros beskikbaar.

Serendipity Strings. (Foto: Verskaf)

Wakkerstroom Musiekfees

Die gewilde Wakkerstroom Musiekfees word van 17 tot 21 Maart in Wakkerstroom, Mpumalanga, aangebied, en klassieke musiekliefhebbers kan uitsien na ʼn verskeidenheid individuele en jazzkonserte.

Feesgangers wat nie al die vertonings kan bywoon nie, kan een van twee galakonserte bywoon wat ʼn oorsig van die feesaanbod bied.

Klassiekemusiekkunstenaars wat by vanjaar se fees optree, is onder andere die sopraan Linelle Wimbles, wat deur  ʼn koperblaasensemble onder leiding van Pharny Crysler-Fox begelei word, Christiaan Snyman (bariton), Lizette Vosloo en Albie van Schalkwyk (klavier) wat liedere van onder meer Brahms, Schubert en Williams uitvoer, asook die ervare sangers Aukse Trinkunas (mezzo-sopraan), Danie Verster (bariton) en Rouel Beukes (bas-bariton).

Vir liefhebbers van musiekblyspele is daar Webber and Rice and all things nice met Vita Wilkens (sopraan), Johan Schlebusch (bariton), Dewald Grobler (bariton), Ruan Kruyshaar (klavier) en Catrien Wentink (klavier).

Op die jazzprogram is daar onder andere Broadway- en swing-gunstelinge deur die populêre Ranehart Jazzensemble, sigeuner- en Franse straatkafeejazz deur Cherry Pill Ensemble, en ook ʼn klassieke jazztrio met David Cousins (klavier), Amaeshi Ikechi (kontrabas) en Peter Auret (tromme).

Besoek die Wakkerstroom Musiekfees se webwerf om meer oor die finale program, konsertskedule en kaartjies te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.