Magdalene Minnaar se solo-produksie op Aardklop is vol eerstes

Magdalene Minnaar (Foto: Verskaf)

Die sopraan Magdalene Minnaar wys eersdaags weer op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom haar musikale vernuf in die solo-produksie Portret.

Dié is haar eerste solo-produksie sedert haar twee kinders se geboorte.

Ná haar vorige uitverkoopte solo-produksie, Taal van my hart met Janine Neethling en Schalk Joubert in 2015, het Minnaar eers die verhoog vir ma-wees verruil.

Portret is ’n introspektiewe produksie waarin Minnaar die gehoor ’n intieme blik agter die skerms gee, deur stories van haar musikale reis vir die eerste keer te deel.

“Ek het al van kleins af ’n diep begeerte om vir mense ’n musikale ervaring te skep en om die geskenk van musiek met gehore te deel deur middel van storievertelling. Ek wil mense aanraak met my stories en musiek,” sê sy.

Dié produksie bring ’n opwindende en diverse klankwêreld na die verhoog met Minnaar wat saam met Maryke Johnson agter die klavier ’n verskeidenheid van 15 van haar gunstelinge – van arias tot Africana tot jazz-verwerkings in Duits, Italiaans, Sesotho, Afrikaans en Frans – aanbied.

Minnaar is die regisseur.

“Ek is veral opgewonde oor “Slaap-medley” waarin ek al die slaapliedjies wat ek vir my kinders sing in tale soos Xhosa, Afrikaans, Engels en Duits, bymekaar gegooi het,” sê sy.

Magdalene Minnaar se solo-produksie Portret (Foto: Verskaf)

Op die program kan feesgangers ook bekende liedjies verwag soos “The Rose” deur Broom, “Smells Like Teen Spirit” deur Nirvana, “Je veu vivre” uit Roméo et Juliette en “Music of the Night” uit The Phantom of the Opera. “Die program is ’n bestekopname van al die interessante liedjies wat ek al deur my loopbaan gedoen het. Soos byvoorbeeld die ou Afrikaanse liedjie “Oktobermaand” deur Pescod wat ek tweede in die program gaan sing, is een van die heel eerste liedjies wat ek in gr. 3 gesing het.”

Hierdie produksie is vol eerstes vir Minnaar: Sy deel van haar eie komposisies en gedigte vir die eerste keer op dié feesverhoog. Sy stel ook haar digbundel Portret tydens haar eerste vertoning op die fees bekend.

Minnaar het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê dat sy ook vir die eerste keer haar oorbelreeks “Magogo” op die fees gaan verkoop. “Elke oorbel wat ek maak is spesiaal. Elke ontwerp is vernoem na ’n bekende sangeres of vrou wat my inspireer. Magogo is genoem na prinses Magogo, wat ’n digter, sanger en komponis was.”

“Ek is dankbaar vir feeste soos Aardklop wat kunstenaars die platform gee om te kan eksperimenteer en grense te verskuif met genres en kuns.”

Portret is 24 September om 17:00; 25 September om 10:00 en 26 September om 12:30 in die kykNET Konservatorium op vanjaar se Aardklop Nasionale Kunstefees te sien. Kaartjies is beskikbaar by Ticketpros.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.