Mal vir jou- Christiaan Kritzinger

 

Dit is nou al meer as drie jaar sedert  die Afrikaanse musiekbedryf van Christiaan Kritzinger kennis geneem het, en dit was seker hoog tyd dat hy weer ‘n album moes opneem.

Hierdie album, Mal vir jou, het teen die einde van verlede jaar verskyn, nadat die eerste treffersnit, Huppel in my stap, al ‘n rukkie voor die tyd oor die radio gespeel is. Dit is ‘n lekker vrolike liedjie, en dit sal enigiemand wat in ‘n slegte bui is, beter laat voel.

Mis jou meer is deur Christiaan en die vervaardiger van die album, Frans Staal, geskryf, en Frans speel ook die mondfuitjie op hierdie snit. Dit is ‘n baie goeie snit wat ‘n treffer kan word.  Die titelsnit is deur Christiaan en Dirkie Geldenhuys geskryf, en is nog n snit met trefferpotensiaal.  Asem is Christiaan se eie komposisie, en is die huidige radiotreffer.  Moniqe Fox sing saam met Christiaan op Ek onthou, en as daar een snit is wat regtig baie radiolugtyd verdien, is dit hierdie een.  Die kitaarspel op Kuier is skitterend; en hoewel die lirieke eintlik ‘n effens hartseer ondertroon het, is dit ‘n baie vrolike liedjie.  Wind se lawaai is effens anders as die res van die album; dit is regtig ‘n pragtige snit wat verdien om oor die radio gespeel te word. Dit is ook lekker om ‘n trekklavier op hierdie snit te hoor. Christiaan het besluit om net een bekende snit in te sluit, naamlik David Kramer se groot treffer Meisie sonder sokkies. Dit is seker die beste opname van hierdie liedjie sedert David se oorspronklike een.

‘n Mens kan maar net lekker lag vir die woorde van Manne bly maar slange, maar die boodskap is ernstig. Hierop sê hy dat meisies baie versigtig wees wanneer dit by mans kom.  Dansvloer  is nog ‘n lekker snit wat Christiaan saam met Frans Staal geskryf het. Die laaste Afrikaanse snit op die album is Waarsku Venus; nog ‘n goeie snit wat ‘n treffer kan word. Country song is die enigste Engelse snit op die album, en dis goed om ‘n oorspronklike country-liedjie te hoor wat met die bestes van Nashville kan saamgesels.

Christiaan het met een van die heel beste Afrikaanse albums van die laaste jaar of wat vorendag gekom. Daar is nie ‘n enkele swak of gemiddelde snit op hierdie album nie, en daarom is dit tyd dat liefhebbers van Afrikaanse musiek van hom kennis begin neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.