Manie Jackson en sy verloofde se paadjies skei

Manie Jackson en Angel de Lange (Foto: Facebook)

ʼn Jaar gelede het die minnesanger Manie Jackson bevestig dat hy wél die jawoord gevra het op dáárdie foto waar hy kwansuis “neergeslaan” en op sy een knie beland het. Nou het die sanger hom weer tot sosiale media gewend om te bevestig dat hy en sy verloofde, Angel de Lange, se paadjies gaan skei.

Jackson en De Lange het Dinsdag dié nuus bevestig in verklarings wat op hul Facebook-blaaie gedeel is.

“Daar is iets belangriks wat ons graag met julle wil deel,” lui die verklaring op Jackson se blad. “Ná vele navrae het ek en Angel besluit om die nuus amptelik bekend te maak dat ons verlowing twee maande gelede verbreek is.”

Volgens die sanger was dit ʼn “gesamentlike besluit” om hul verhouding te beëindig. “[Die besluit is geneem] weens ons albei se besige skedules. Ons sal steeds in die toekoms saam te sien wees, êrens op ʼn verhoog. Baie dankie byvoorbaat dat julle ons privaatheid respekteer.”

Honderde boodskappe van bemoediging het op die sangers se amptelike sosialemediablaaie verskyn. “Mens verstaan nie altyd hoekom mens eers sekere paaie moet loop nie, maar weet dat God jul kompas in sy hand vashou en dat Hy altyd die rigting vorentoe sal aanwys,” het Sanché Vermaak geskryf.

“Die lewe het maar sy kinkels en kabels, sy goeie en slegte. Soms werk ʼn ding en soms nie, en wat mens daarvan maak bepaal of jy heel anderkant uitkom of nie. Ek glo en vertrou dat aangesien dit ʼn gesamentlike besluit was, julle albei heel gebly het hoewel daar tog ook daardie seer sal wees,” het Magda Pretorius aan die sanger geskryf.

Jackson en De Lange het einde Junie verlede jaar buite Groot-Marico in Noordwes verloof geraak. Jackson het kort daarna sy eerste oorspronklike album in drie jaar, Palms van my hande, uitgereik. Die sangers het ʼn duet vir dié album opgeneem.

Hieroor het Jackson destyds aan Maroela Media gesê: “Ek en Angel werk lekker saam – ons is dikwels saam op toer. Soms roep ek haar saam met my op die verhoog, dan sing sy saam. Die duet in dié album was om haar bloot te stel aan die publiek en natuurlik ook om ʼn mooi storie van liefde te vertel; iets wat die meeste mense maar altyd roer.”

Jackson en De Lange het albei privaatheid versoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

DS ·

Ai so gehoop dié keer het jy ware liefde gevind Manie. Jy verdien om gelukkig te wees saam iemand. Sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.