‘Manna vir die Boere’ samel rekordbedrag in vir boere

Ongeveer 800 mense het die Manna vir die Boere-konsert bygewoon. Foto: Verskaf

Ongeveer 8000 mense het die Manna vir die Boere-konsert bygewoon. Foto: Verskaf

ʼn Rekordbedrag van byna R2,5 miljoen is verlede week met die Manna vir die Boere-konsert in Pretoria ingesamel toe kunstenaars soos Adam Tas, Laurika Rauch en Steve Hofmeyr konsert gehou het om boere in die droogte by te staan.

Dié konsert het ten doel om verligting te bring aan boere in droogtegeteisterde gebiede in Suid-Afrika.

Zahn Hulme, woordvoerder van die Atterbury-groep, het gesê konsertgangers en musikante was byna verstom toe die reën uitgesak het terwyl Laurika Rauch die refrein van “Stuur groete aan Mannetjies Roux” begin sing het.

Die gewilde sanger, Adam Tas, het met dié idee vorendag gekom. “Omdat ek self boer, weet ek hoe dit voel wanneer boere nie kan voer koop vir hul vee nie. Ek weet selfs van boere wat nie eens geld het vir ammunisie om hul vee van kant te maak nie. Een feit is dat min dinge uiteenlopende mense in Suid-Afrika saamsnoer soos ware nood,” het die sanger vroeër aan Maroela Media vertel.

Verskeie Afrikaanse kunstenaars het verniet by die konsert opgetree ten bate van boere. Foto: Verskaf

Verskeie Afrikaanse kunstenaars het verniet by die konsert opgetree ten bate van boere. Foto: Verskaf

Vir die projek het hy hande gevat met die organisasie Caring Daisies, en sy vriende in die musiekbedryf genader om hul dienste en talent gratis beskikbaar te stel vir ’n konsert ten bate van droogtehulp. Sangers soos Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jak de Priester, Pieter Koen en Jannie Moolman, onder musiekleiding van Matthys Maree en orkes, het voor sowat 8 000 mense opgetree.

Die volle opbrengs van die konsert sal deur Caring Daisies bestuur word om verligting te bring aan boere. “Afgesien van die kaartjieverkope, wat altesaam ongeveer R1 miljoen ingebring het, het die ruimhartige skenkings van mense en organisasies ons harte warm laat klop,” het Anria van Heerden, uitvoerende hoof van Caring Daisies, gesê.

Anria vertel die sukses van die projek hou nie op omdat die konsert verby is nie. “Mense maak steeds hul harte oop. Adam Tas het self ʼn verdere R50 000 geskenk, Bakkies Botha en sy vriende R400 000, en ander borge soos Pilanesberg Game Breeders en Piet du Toit Wildbedryf byna nog ʼn miljoen. Duffield Game Breeders het laat weet dat hulle eerskomende Saterdag by hul veiling ʼn waardevolle split-swart rooibokram met 25-duim-horings gaan opveil en die opbrengs aan Manna vir die Boere skenk. Daar stroom steeds hulp in.”

Kontantskenkings en hulp in die vorm van trokvervoer, voer en meer is steeds welkom. Rig navrae aan Anria van Heerden by [email protected] of stuur ’n e-pos  [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Deloris ·

Saam sal ons staan!!! so trots om Suid-Afrikaner te wees !!!!

Johan Steyn ·

Wat kan mens sê behalwe dankie vir Genade, dankie vir ons mense se medemenslikheid, dankie aan ‘n ieder en elk wat gee en gee en gee waar hulle eie omstandighede dit nie altyd toelaat nie, tog gee hulle.

Dit gee mens weer vertroue in die mensdom.

Connie ·

Dankie aan almal wat so vir ons boere omgee. Julle sal julle beloning kry. Dit is alles net Genade. Dankie Here vir die Genade wat ons elke dag so onverdiend van U ontvang.

Koos ·

Dankie , elke bietjie help. wil nie ondankbaar klink nie maar R2.5 miljoen is bitter min. Die boere het eintlik ten minste R2000 miljoen of 2 miljard nodig. Onthou ook dat die regering help slegs swart boere. Dit moes nogsteeds ‘n lekker dag gewees het. welgedaan.

Heleen Coetsee ·

Baie dankbaar vir alle donasies,en nog meer trots op wat Anria van Heerden en haar Daisies doen,almal vrywilligers wat hard werk om n verskil te maak.Hou hulle dop,hulle is aan’t galop!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.