Manne wat Glo toer Doer Onder

Manne-wat-glo

Jan de Wet, Dewald Gouws, Willie Joubert en Leon Ferreira is lid van die gospelgroep, Manne wat Glo. Foto: Facebookblad

Nadat hulle verlede jaar groot sukses met hul debuutalbum behaal het, is Manne wat Glo terug met hul tweede album en hulle staan op die punt om hierdie album in Australië en Nieu-Seeland te gaan vrystel.

Manne wat Glo kan beskou word as ʼn supergroep wat hulle op Afrikaanse Christelike musiek toespits en bestaan uit vier mans wat reeds bekendheid as solo-kunstenaars verwerf het, naamlik Jan de Wet, die pionier van moderne Afrikaanse Christelike musiek soos ons dit vandag ken, Willie Joubert, Leon Ferreira en Dewald Gouws. Soos met hul vorige album, bestaan hul nuwe een, Manne wat Glo 2, uit nuwe en bestaande snitte, met geloof, hoop en liefde as sentrale tema. Benewens die nuwe snitte is daar ook ʼn nuwe verwerking van die bekende “Lofsing die Here”, wat in die Liedboek van die Kerk voorkom en jou dadelik sal laat saamsing.

Hierdie internasionale toer is die grootste tot dusver deur ʼn Suid-Afrikaanse kunstenaar of groep. Hulle gaan in twee kontinente en nege state optree  en in byna drie weke veertien konserte in vyf tydsones aanbied.  Volgens Hennie Botha, die  eienaar van Musiekfabriek, wat die konserttoer reël,  is sy gebed dat elkeen wat hierdie optredes bywoon,  gemotiveer sal word om die spesiale rol wat hulle in Australië of Nieu-Seeland volgens God se plan vir hul lewens het, te vervul.  “Ons stel voor dat kaartjies lank voor die tyd bespreek word; hierdie gesinsvriendelike vertoning is van ʼn hoë standaard en kaartjies sal  vinnig uitverkoop,” voeg hy by.

Hierdie vertoning is ʼn bewys dat Manne wat Glo ʼn aanwins is, nie net vir die plaaslike musiekbedryf nie, maar vir Christelike musiek as ʼn geheel.  Hierdie vertoning word sterk aanbeveel vir liefhebbers van Afrikaanse Christelike musiek, aangesien al vier lede van dié groep uiters talentvolle sangers en liedjieskrywers is.

Die konserttoer begin op 4 Maart in Brisbane en eindig op 20 Maart in Perth.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.