Manne wat Glo

Manne wat glo CDDeur die geskiedenis van die musiekbedryf het dit al gereeld gebeur dat kunstenaars wat reeds bekendheid verwerf het as lede van groepe, of as solo-kunstenaars, bymekaargekom het en ‘n nuwe groep gevorm het.

Voorbeelde hiervan is Crosby, Stills and Nash, The Traveling Wilburys en, in Suid-Afrika, Ses Snare en 4 Werke. Nou het vier kunstenaars wat hulle op Afrikaanse Christelike musiek toespits, ook so gemaak en die groep Manne wat Glo gestig. Jan de Wet is natuurlik die pionier van Afrikaanse Christelike musiek soos ons dit vandag ken. Willie Joubert en Leon Ferreira is al langer as twintig jaar, terwyl Dewald Gouws onlangs eers tot die bedryf toegetree het en al twee albums vrygestel het.

Dewald bewys met die titelsnit van hul gelyknamige debuutalbum dat hy ‘n uitstekende liedjieskrywer is. Dit is geïnspireer deur Bybelse geloofshelde soos Salomo, Job, Daniël en Paulus en die boodskap is op vandag se manne van toepassing. Nog een van Dewald se komposisies is die eerste treffersnit, Deur U krag. Jan se bas-stem kan baie duidelik gehoor word en dit maak hierdie snit iets besonders. Hierdie snit kan een van die heel grootste Christelike treffers tot nog toe word! Die derde snit wat Dewald geskryf het, is Kreet van geloof, wat ook ‘n treffer kan word. Die boodskap van hierdie snit is dat God ons tot geloof oproep.

Dewald se laaste komposisie is Boodskap van die Lam, wat natuurlik geskryf is om by sy tenoor-stem te pas, en waarop hy hoofsaaklik voorsing. Daar is egter nie net nuwe snitte op die album nie. Die eerste bekende een is iets besonders. Gewoonlik word Jerusalem deur ‘n tenoor soos Gé Korsten gesing, maar Jan en Leon sing aan die begin voor. Die feit dat albei van hulle bas-stemme het, maak dit iets besonders. Willie en Dewald sing teen die einde voor, maar ‘n oktaaf hoër. Dit is seker een van die heel beste opnames van hierdie lied wat tot nog toe verskyn het!

Willie se eerste komposisie is Ek en my huis sal die Here dien, wat geinspireer is deur Josua 24 vers 24. Die boodskap is dat ons nie skaam moet wees om die Here te dien nie en dat ons huisgesinne dieselfde moet doen. Willie het ook die volgende snit, Seën van die Here, geskryf. Die boodskap is dat dit bloot die Here se seën is wat ‘n mens ryk maak en deur tye van nood dra. Leon het Soos ‘n vlam in die nag omtrent twintig jaar gelede die eerste keer, en dit klink selfs nog beter as al vier saam sing. Leon se nuwe komposisie vir hierdie album is Mosterdsaad, wat geskryf is na aanleiding van die gelykenis van die mosterdsaad wat Jesus in Mattheus 13 vertel het. Dit kan ook een van die treffers vanaf dié album word!

Joe Niemand het groot sukses behaal met Ek sal nie bang wees nie, en nou het Manne wat Glo dit ook opgeneem. Dit kan van voor af gewild word, en miskien klink dit beter as hulle vier dit saam sing. Piet Smit kon net so wel deel van dié groep gewees het, maar hy het ook ‘n bydrae gelewer. Hy het die woorde van Soos ‘n man van die Woord, op die wysie van Verdi se bekende Va pensiero, ook bekend as die Slawekoor uit die opera Nabucco, geskryf. Die video van die opname wat Piet saam met Jan en Willie gemaak het, verskyn onderaan. Jan het een van die beste snitte op die album, Twee is beter as een,na aanleiding van Prediker 4 geskryf. Jan se ander komposisie op die album is Onsienlike. Weer eens is dit ‘n snit met trefferpotensiaal. Een van die lekkerste snitte in die Liedboek van die Kerk is Braam Hanekom se oorspronklike komposisie Alle volke klap jul hande. Die verwerking is uistekend en dit sal almal sommer dadelik laat saamsing.

Die stigting van Manne wat Glo is seker die belangrikste verwikkeling in Afrikaanse Christelike musiek sedert Jan die eerste keer met ‘n kitaar op die kansel van ‘n NG-kerk geklim het. Enigiemand Die vier manne se stemme komplementeer mekaar baie goed, en elke snit dra ‘n sterk boodskap. Daarby is elke snit goed genoeg om met enige kommersiële trefferslys eer aan te doen. Die bekendstellingsgeleentheid van die album was iets baie besonders, en ek wil enigiemand wat die CD koop, aanraai om die lirieke van al die snitte aan te leer, want hulle moedig die gehoor aan om saam te sing deur die lirieke van elke snit op ‘n skerm te wys . Dit is ongetwyfeld die heel beste Afrikaanse Christelike CD wat tot dusver vrygestel is, en dit hoort in elke Christen-musiekliefhebber se CD-versameling!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.