Manskoor sing-sing op pad na Wêreldkoorspele in België

The Fellowship-manskoor (Foto: The Fellowship Male Voice Choir/Facebook)

“Baie mense sal dink dat so iets nooit met hulle sal gebeur nie,” vertel Phillip Visagie, dirigent van The Fellowship­manskoor wat genooi is om volgende jaar aan die Wêreldkoorspele in België te gaan deelneem.

Die Wêreldkoorspele het verlede jaar in Suid-Afrika plaasgevind, waar Visagie deel van die personeel was wat die spele gereël het. Tydens die kompetisie het Visagie begin om voelers uit te steek oor die moontlikheid om self deel te neem. Hy het later een van The Fellowship se opnames aan die organiseerders gestuur.

“Toe ons die amptelike uitnodiging van Interkultur, die organiseerders van die Wêreldkoorspele, ontvang, kon ons ons ore nie glo nie. Om aan dié kompetisie deel te neem is ‘n droom vir elkeen van die koorlede en ons is geweldig opgewonde.”

The Fellowship is in 2005 gestig. “Dit was aanvanklik ʼn duet. Ek en my neef het eers saam gesing totdat dit later ʼn kwartet en uiteindelik ‘n koorgroep geword het. Ons bestaan tans uit 20 amateur-koorlede,” verduidelik Visagie verder.

Lede van The Fellowship is nie professioneel opgeleide sangers nie, maar neem aan koorsang deel uit die liefde vir sang en die wonderlike gevoel wat musiek vir die kunstenaars én hul gehoor bring.

“Koorsang is ‘n kragtige instrument wat vrede, vreugde en harmonie bring aan almal met wie ons interaksie het,” sê Visagie. “Ons hoop om nog baie jare op te tree en mense se harte aan te raak.”

Die afgelope jaar het die koor sy horisonne verbreed deur by verskillende geleenthede op te tree – onder meer by die Baviaanspoort-gevangenis asook in hospitale.

The Fellowship het ʼn skarefinansieringsveldtog geloods om geld vir die toer na België in te samel. Besoek gerus hulle Facebook-blad vir meer inligting.

Kyk ook hier na hulle weergawe van “Nearer, My God, to Thee”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

potlood ·

Sterkte en ek hoop julle behaal net soveel sukses soos die ndlovu koor vroeër die jaar met hulle toer.

Julie Jansen van Rensburg ·

Dankie dat jy my aan die Ndlovu-koor herhinner het – daardie kinders was eenvoudig fantasties – ek is regtig spyt dat hulle toe nie as die finale wenners gekies is nie, maar hulle het nogtans die wêreld gewys watter pragtige sang hulle lewer… miskiwn weeraan AGT deelneem en hierdie keer as finale wenners uittree??? Welgedaan, seuns en dogters!!! Ek hoop hulle dirigent, Ralf, sal voortgaan om die jeugkoor/kore af te rig… Hulle is pragtige ambassadeurs vir ons land…

Julie Jansen van Rensburg ·

Allesvan die beste, mannekoor! My seun (wat toevallig vandag sy 58ste vier) het as driejarige begin sing; was lid van die Durbanse Seunskoor totdat sy stem gebreek het en daarna 9 jaar lid van die mannekoor daar. Nou is hy lid van die Walliese manekoor hier in Gauteng – ek verkies eintlik mannekore – gemengde mans-en vroue kore, maar nie veel trek vir vrouekore nie – jammer, maar ek het nog nooit ‘n trek vir vrouesoprane gehad nie, veral wat opera betref. Maar nou ja – smake verskil, né???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.