Manuel Escórcio vereer vir lewensbydrae

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, Manuel Escórcio en ds. Cassie Aucamp, organiseerder van die Afri-Duetfees. (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, Manuel Escórcio en ds. Cassie Aucamp, organiseerder van die Afri-Duetfees. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse sanger Manuel Escórcio is tydens vanjaar se Afri-Duetfees, een van die belangrike gebeure op die Afrikaanse kultuuralmanak, deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ʼn Prestige-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek vereer.

’n CD van Escorcio, My land, my lied, met begeleiding deur ʼn simfonieorkes, is Saterdagaand in samewerking met die FAK en Next Music in die ZK Matthews-ouditorium by Unisa bekendgestel.

Dié album, met baie gewilde FAK-liedjies soos “Op my ou ramkietjie”, “Kom dans Klaradyn”, “Bobbejaan klim die berg” en “O, boereplaas”, was voorheen net as ʼn langspeelplaat beskikbaar.

Escórcio kon nie ʼn enkele woord Afrikaans of Engels praat nie toe hy op 17-jarige ouderdom saam met sy Portugese pa en sy Spaanse ma, oorspronklik van Mauritius, na Suid-Afrika geëmigreer het. Vandag sing hy vlot in sewe tale. Hy het aanvanklik ook geen formele opleiding gehad nie, maar spog nou nie net met ’n graad in teologie nie, maar het ook ’n BMus- en MMus-graad verwerf.

Dr. Danie Langner en Manuel Escórcio. (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner en Manuel Escórcio. (Foto: Verskaf)

Hy sing van opera, ligte klassieke musiek en gospel tot gewilde treffers. Escórcio het meer as 50 plate en CD’s op sy kerfstok, en het in 32 operas en amper 5 000 konserte opgetree. Hy het op elke vasteland en ʼn hele rits eilande ʼn buiging op die verhoog gemaak.

Die Afri-Duet-verhaal het begin op ʼn Saterdagoggend in September 2013 toe die sang- en egpaar Willie en Natasha Joubert die gaskunstenaars was by die Gereformeerde Kerk Andeon in Pretoria se 25ste jaarlikse Jakarandatee. Hul sielvolle optrede was die inspirasie wat die Duetfees-konsep by Andeon en Bergsig se predikant, ds. Cassie Aucamp, laat posvat het.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Aucamp, organiseerder van die Afri-Duetfees wat Saterdag deur sowat ʼn duisend mense bygewoon is, met die fees se vyfde verjaardag gelukgewens. “Dit was hoendervleismooi toe soveel stemme die ‘Onse Vader’ sing”, het Langner gesê.

Manuel op die verhoog tydens die geleentheid. (Foto: Verskaf)

Manuel op die verhoog tydens die geleentheid. (Foto: Verskaf)

“Die mooiste instrumente wat die Here ons gegee het, is die volmaakte harmonie tussen die twee stemme van ʼn man en ’n vrou,” het Aucamp bygevoeg.

Vanjaar se duette wat opgetree het was Louis Loock en Anna Davel, Willie en Natasha Joubert, Nicholis Louw en Loriska Bubb en Burgerd Botha en Charlize Berg.

Die FAK het ook aan Escórcio  ʼn geraamde voorblad van dié CD en ʼn Janita Claassen-roos oorhandig. Hy en Claassen het deur die jare talle duette saam gesing. Hy het skoon bewoë geraak toe die roos aan hom oorhandig het.

Escórcio het na afloop van die geleentheid gesê hoe Claassen sy siel verryk het. Sy het om “Skorsie” genoem en hy haar “Claassentjie”. Hy het ook vertel hoe hy verlief geraak het op Afrikaans en dat hy nooit sal vergeet hoe dié land hom aanvaar het en vir hom ʼn toekoms gegee het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yankee ·

Wat n pragtige mens!! Ken hom al byna 32 jaar. So sorry i missed him a few years back in California on his trip.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.