Die Afrikaanse sanger Manuel Escórcio is tydens vanjaar se Afri-Duetfees, een van die belangrike gebeure op die Afrikaanse kultuuralmanak, deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ʼn Prestige-toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek vereer.
’n CD van Escorcio, My land, my lied, met begeleiding deur ʼn simfonieorkes, is Saterdagaand in samewerking met die FAK en Next Music in die ZK Matthews-ouditorium by Unisa bekendgestel.
Dié album, met baie gewilde FAK-liedjies soos “Op my ou ramkietjie”, “Kom dans Klaradyn”, “Bobbejaan klim die berg” en “O, boereplaas”, was voorheen net as ʼn langspeelplaat beskikbaar.
Escórcio kon nie ʼn enkele woord Afrikaans of Engels praat nie toe hy op 17-jarige ouderdom saam met sy Portugese pa en sy Spaanse ma, oorspronklik van Mauritius, na Suid-Afrika geëmigreer het. Vandag sing hy vlot in sewe tale. Hy het aanvanklik ook geen formele opleiding gehad nie, maar spog nou nie net met ’n graad in teologie nie, maar het ook ’n BMus- en MMus-graad verwerf.
Hy sing van opera, ligte klassieke musiek en gospel tot gewilde treffers. Escórcio het meer as 50 plate en CD’s op sy kerfstok, en het in 32 operas en amper 5 000 konserte opgetree. Hy het op elke vasteland en ʼn hele rits eilande ʼn buiging op die verhoog gemaak.
Die Afri-Duet-verhaal het begin op ʼn Saterdagoggend in September 2013 toe die sang- en egpaar Willie en Natasha Joubert die gaskunstenaars was by die Gereformeerde Kerk Andeon in Pretoria se 25ste jaarlikse Jakarandatee. Hul sielvolle optrede was die inspirasie wat die Duetfees-konsep by Andeon en Bergsig se predikant, ds. Cassie Aucamp, laat posvat het.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het Aucamp, organiseerder van die Afri-Duetfees wat Saterdag deur sowat ʼn duisend mense bygewoon is, met die fees se vyfde verjaardag gelukgewens. “Dit was hoendervleismooi toe soveel stemme die ‘Onse Vader’ sing”, het Langner gesê.
“Die mooiste instrumente wat die Here ons gegee het, is die volmaakte harmonie tussen die twee stemme van ʼn man en ’n vrou,” het Aucamp bygevoeg.
Vanjaar se duette wat opgetree het was Louis Loock en Anna Davel, Willie en Natasha Joubert, Nicholis Louw en Loriska Bubb en Burgerd Botha en Charlize Berg.
Die FAK het ook aan Escórcio ʼn geraamde voorblad van dié CD en ʼn Janita Claassen-roos oorhandig. Hy en Claassen het deur die jare talle duette saam gesing. Hy het skoon bewoë geraak toe die roos aan hom oorhandig het.
Escórcio het na afloop van die geleentheid gesê hoe Claassen sy siel verryk het. Sy het om “Skorsie” genoem en hy haar “Claassentjie”. Hy het ook vertel hoe hy verlief geraak het op Afrikaans en dat hy nooit sal vergeet hoe dié land hom aanvaar het en vir hom ʼn toekoms gegee het nie.
Wat n pragtige mens!! Ken hom al byna 32 jaar. So sorry i missed him a few years back in California on his trip.
Uit en uit verdien. Pragtige stem.