Marcia Moon: Magies-mooie sang neem jou op storiereis

marcia-moon

Die sanger, liedjieskrywer, fotograaf en prokureur, Marcia Moon, sing spookmooi verhale. Foto: Marcia Moon/Facebook.

“My doel is om mense te kry om ʼn bietjie stil te raak en toe te laat om dieper te delf. Ek wil hulle die geleentheid gee om deur my musiek te sien wat hier diep binne elkeen aangaan.”

Só gesels die sangers en liedjieskrywer Marcia Moon oor haar eie musiek vroeër die week in Maroela Media se ateljee. Sy is deel van ʼn nuwe generasie plaaslike sangers van die skoner geslag wat daarin slaag om gehore met hul musikale verhale mee te voer.

Sommige mense sal dit sekerlik folkmusiek noem, en ander dalk alternatiewe rock, maar Marcia sê dit gaan eintlik veel meer daaroor om stories te vertel waar musiek die medium is waarin die verhaal laag vir laag onthul en oorgedra word.

Haar musiek het eintlik per ongeluk op my tafel geland. ʼn Kollega, wat ʼn skakelbeampte vir ʼn welsynsorganisasies was, stuur ʼn beskeie e-pos aan my. “Guns: Ek weet ek volg dalk nou nie die amptelike kanale nie, maar Marcia Moon, ʼn vriendin van my, se musiek is regtig goed, maar sy het hulp nodig met bemarking van haar volgende vertoning.”

So luister ek dadelik na die enkelsnit “Heks van Hexrivier-vallei” wat saam met die e-pos by my uitgekom het. Byna onmiddellik word ek meegesleur na my kinderdae en Storiemuis, toe ek die eerste keer die storie gehoor het van die beeldskone Eliza Meiring wat so in dié vallei gespook het.

Marcia verpak die storie in ʼn grunge-rock-folk-styl, plaas ʼn musikaal interessante laag of twee op die verhaal en skielik spook dié bekende storie op ʼn heel ander manier by jou.

Marcia sê sy was nog altyd lief vir woord en musiek, maar dit was eers jare later (ná haar studies en ʼn draai in Londen) dat sy besef het sy kan werklik ʼn loopbaan uit haar eie musiek maak.

Sy beskryf haar eie musiekstyl as sanger-liedjieskrywer (singer-songwriter): “Soos die 90’s se Nic Cave, Tracy Chapman en Tori Amos. Ek is een van daardie liedjieskrywers wat ʼn instrument gebruik as deel van my identiteit.

“Ek sing oor die dieper dinge, sielkundige en spirituele goed. Dis anders en nie kommersieel nie, maar dit is maar my styl.”

Marcia sê sy het in Pietersburg grootgeword en dit is hier waar sy liedjies begin skryf het as ʼn manier om haar siel en emosies te sus. Later het die liedjieskryfproes ontwikkel in ʼn manier waarop sy haar eie en ander mense se stories kon verwerk en uiting gee aan gedagtes wat eintlik maar altyd in ʼn mens se eie kop sal bly as jy nie daaroor skryf nie.

“Ek moet eerlik wees, ek skryf regtig oor ernstige goed en ek het al mense gehad wat gesê het hulle gebruik my musiek om dinge te verwerk, te deal met hul goed.”

Van die grootste pluimpies wat sy al gekry het, is van haar aanhangers wat gesê het haar musiek het vir hulle baie op ʼn sielkundige of emosionele vlak beteken.

“Ek dink ek wil juis mense ʼn bietjie voorstel aan hul eie donker en dieper kant. ʼn Singer-songwriter is soos die spreekwoordelike dark mirror – ons gaan onder in die onderbewussyn in en sing oor dinge waaroor mense oor die algemeen nie wil praat nie. Die luisteraars kry die kans om hulself in die lied te vind deur met die storie/emosie te identifiseer – so hoef hulle nie self die “donker plek” in hul wese te besoek nie, maar kry die geleentheid om die kwessie (byna onbewustelik) te verwerk.”

Marcia sê sy het darem ligter musiek ook en dan het sy ook liedjie wat net gewone stories vertel. Sy hou egter daarvan om haar gehore met die dieper dinge van die lewe te konfronteer en aan te gryp.

  • Pretorianers wat Marcia Moon op die verhoog wil sien, kan saam met haar op Vrydag 28 September om 20:00 by Cafe Barcelona in Colbyn of op Sondag 30 September by die International Timeless Cafe by die Cullinan Premier Hotel gaan kuier. Lesers kan ook uitvind waar sy volgende optree deur haar op Facebook te volg of haar webwerf te besoek.
  • Marcia Moon het onlangs in Maroela Media se ateljee kom kuier en met Esté Meyer Jansen gesels oor haar musiek, liedjieskryfproses en planne vir die toekoms. Luister na die onderhoud en haar lied “Ritme” boaan hierdie berig.

Kyk hier na Marcia Moon se musiekvideo van haar lied “Heks van Hexrivier-vallei”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Dit is anders en nie kommersieel nie, maar dit is jou styl. Ek geniet jou styl! Ek luister die woorde en jou tipe sang is waarna ek kan luister. Beslis nie wanneer ek die braaivleisvuur gereedmaak nie maar sonder twyfel wanneer ek nà die braai, of op enige ander aand, rustig sit en mymer met eie gedagtes en ‘n kelkie droog rooi. In kort… Marcia, ek is ‘n aanhanger (of in Afrikaans gesê, een van jou fans!) :-)

Willem ·

Wat ‘n o gelooflike mens! Musiek vir elke alternatiewe siel!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.