Marno van der Merwe sing ook in regte lewe

Marno van der Merwe. Foto: Verskaf

Marno van der Merwe. Foto: Verskaf

Aanhangers het Marno van der Merwe die eerste keer agter die mikrofoon gesien op die silwerdoek en die kassie – dié keer bring die veelsydige vermaakkunstenaar werklik sy eerste enkelsnit uit.

Marno is deesdae te sien in produksies soos Sterlopers en Modder en Bloed wat tans in teaters draai. Sy eerste solo-album, O My Liefde, word later vanjaar uitgereik.

“Dit bestaan ui lekkerluistermusiek wat mense emosioneel sal maak,” het Marno vertel. Hy en die musiekvervaardiger, Harshin Reddy, het saam aan die album gewerk, geskryf en opgeneem. Die eerste enkelsnit getiteld “Uitverkoop” is van 7 April op die draadloos.

Die liedjie, wat geskryf en gekomponeer is deur Marno, vertel oor die liefde. “Liefde is iets wat nie ligtelik opgeneem moet word nie, want dit is veronderstel om permanent te wees. Dit is amper iets soos ʼn kontrak. As jy geteken het, is dit bindend.  Maar vanuit ʼn liefdesoogpunt is dit vrywillig bindend.”

Marno het as jong seun by die Laerskool Rustenburg al begin musiek maak met ʼn musiekonderwyser as ma. Op tienjarige ouderdom was hy klaar vaardig agter ʼn tromstel waarna hy hom self leer kitaar speel het.

“Ek het wel in 2005 en 2006 vir die Falcons in die eerste liga uitgedraf, maar toe wen die vermaaklikheidswêreld,” het hy geskerts. “Ek het in daardie tyd ʼn kursus in teologie by die Lewende Woord Bybelkollege gedoen, maar my passie vir die verhoog het oorgeneem en ek moes ʼn keuse maak.”

In Sean Else se 2016-periodefliek, Modder en Bloed, is hy te sien as die karakter JJ Ratel Wessels. “Ek is baie trots op dié fliek. Veral omdat ek nog altyd graag in ʼn geskiedkundige storie wou speel. Dat die fliek boonop iets van ons eie geskiedenis vertel, maak dit net ʼn groter bonus.”

Besoek sy Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.