Maroela is 10! Word só deel van ons musiekvideo

Maroela Media, jou lekkerste bron van nuus, jou tuiskomsplek, jou heenkome, vier vanjaar ons 10de verjaarsdag! Om dié spesiale verjaardag te vier, nooi ons jou as ʼn lojale leser om jou verskyning in ons verjaardagvideo te maak. Al wat jy hoef te doen, is om ʼn foto te neem.

Op 29 Julie 2011 het ons vir die eerste keer ons deure oopgegooi en jou ingenooi om saam met ons by ons kombuistafel te kom kuier. Vir tien jaar al deel ons in goeie én moeilike tye jou en ander Afrikaanssprekendes se stories met mekaar.

Ons het al saam Koos du Plessis se “Kinders van die Wind” as die Grootste Afrikaanse Liedjie aangewys en Paul Kruger as die Grootste Afrikaner van Alle Tye. En bly ingeskakel – want ons gaan vanjaar weer ʼn soortgelyke veldtog aanpak, want ons Afrikaners is mos plesierig!

Ons beplan reeds verskeie verrassings vir jou hierdie jaar as deel van ons verjaarsdagvieringe en die eerste hiervan is dat jy deel kan word van ons musiekvideo!

In 2019 het ons “Plattelanders”, Maroela Media se eie liedjie, vrygestel. Die talentvolle liedjieskrywers en musikante Muller Brandt en Michael van der Walt is gevra om vir die radiovervolgverhaal Plattelanders sy eie temamusiek te skryf, en só het Maroela se eie liedjie, wat vertel wie ons mense is en hoe ons saamstaan in moeilike én goeie tye, gebore.

Vir ons 10de verjaarsdag wil ons spesiaal ʼn musiekvideo vir dié liedjie maak waarin ons lesers verskyn! Klik hier om die liedjie af te laai en solank lekker saam te luister!

Word deel van die musiekvideo

Jy kan ook in ons musiekvideo verskyn!

Al wat jy hoef te doen, is om ʼn foto te neem waar jy ons gelukwens met ons 10de verjaarsdag. Jy kan lekker kreatief wees – dit kan sommer net ʼn plakkaat met ʼn verjaarsdagboodskap daarop wees, of jy kan solank partytjie hou met ʼn partytjiehoed op die kop en ballonne in die hand. Jy kan enige foto aanstuur wat wys hoe jy Maroela geniet en hoe jy saam met ons verjaarsdag vier – want Maroela is niks sonder sy lesers nie!

Stuur jou foto voor 16 Mei 2021 op WhatsApp na 060 665 2417 om in die video te verskyn.

Dis mos nou lekker, Maroela!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Androclus

Hiep hiep hoera, Maroela verjaar!
‘n Dekade!!!

Ellie

Veels geluk liewe Maroela
omdat jul verjaar
Mag die Here julle seen
En nog baie jare spaar!
Hiep hiep hoera!!