Meesters van die kuns- Danie Niehaus

Danie Niehaus - Meesters van die kunsDis moeilik om te glo dat Danie Niehaus nou al dertig jaar lank in die musiekbedryf is, want hy het in daardie tyd ‘n legende geword.

Ter viering van hierdie mylpaal het hy besluit om ‘n album met ‘n klassieke aanslag op te neem en vir ‘n verandering het hy al die snitte daarop self geskryf. Meesters van die kuns is sy tiende album, en anders as sommige van sy vorige vrystellings is dit eerder op die “musiekfynproewer” as die kommersiële mark gemik. Die lirieke op die eerste snit, My debuut, het baie meer om die lyf as die gemiddelde kommersiële Afrikaanse liedjie, en dit sal eerder by ‘n ouer of ‘n meer uitgelese gehoor byal vind.  Kleure was die titelsnit van Danie se vierde album, wat al twintig jaar gelede verskyn het, en dit is so ‘n mooi snit dat dit goed is dat hy dit weer ingesluit het. Bloukant van die maan is ‘n nuwe komposisie wat baie goed by die album inpas.  Mag ek maar is ‘n snit wat hy , sover ek weet, al voorheen opgeneem het, maar weer eens is dit ‘n pragtige snit.  Nog ‘n hoogtepunt vanaf die album is Jy weet dit reeds, een van die nuwe komposisies vanaf die album. Spore is nog ‘n oorspronklike komposisie, en het niks met Elvis Blue se treffer met dieselfde titel te doen nie.

Ek en jy is seker een van die beste snitte op die album, en dalk is dit ‘n snit wat radiolugtyd behoort te kry. Die een snit wat wel al ‘n radiotreffer is, is Parys in die somer. Die vraag is net; hoekom wil ‘n mens in Afrikaans van ‘n oorsese bestemmings sing? Daar was in die verlede baie sulke voorbeelde, onder meer Lente in Switserland, Mooi Griekeland en Spaanse kitare, om ‘n paar te noem, en ‘n mens het regtig gedink dat dit ‘n verbygaande foefie was. Nogtans is dit ‘n mooi snit. Die volgende snit is een van sy grootste treffers, naamlik Jy is vrou, wat aanvanklik bekendgestaan het as Niks is dan mooier.  Miskien is hierdie opname beter as die oorspronklike een. Die titelsnit is die laaste snit op die album; weer eens is dit op die meer uitgelese musiekliefhebber gemik.

Danie is seker een van die kunstenaars wat die meeste in die musiekbedryf bereik het; hy het al heelwat kommersiële treffers gehad, hy was al deel van Drie van die bestes saam met Mathys Roets en Kevin Leo en hy het ook al saam met Leon Schuster getoer. Hy het groot kommersiële sukses behaal, maar op hierdie album kom ‘n mens agter dat hy ook weet hoe om die “musiekfynproewer” (of snob, soos sommige mense sal sê) se smaak te bevredig. Jy sal nog na hierdie album luister lank nadat jy van die “bokkie-,sokkie-,rokkie”-snert vergeet het en daarom is dit die moeite werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Geen kommentaar

Burt Potgieter ·

Ek kry nie die nuwe album (Meesters van die kuns) by CD winkels nie (look en Listen, Musica ens)
waar kan mens dit koop?

mannie deysel ·

help waar kan ek meesters van die kuns van Danie Niehaus bestel

Daantjie Dinamiet ·

Dit behoort deur Kalahari.com beskikbaar te wees, anders musiekwinkels soos Look and Listen of Music Moods.

Jakes ·

Fantasties! Baie geluk aan Danie met hierdie fantasietiese album! Ek is lankal moeg vir die “bokkie sokkie rokkie snert” (soos julle dit stel). Noem my dan nou maar ‘n musiek fynproewer of snob! Parys in die Somer is werlik ‘n meesterstuk. Dat Danie al die lirieke (en musiek?) self geskryf het, verstom my! Nooit gedink die man het soveel diepte nie! Ek het ook lank gesoek in musiek winkels voordat die CD kon kry – ‘n teken dat hy goed verkoop? Veels geluk, Danie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.