Melanie leer kinders liefdadigheid met nuwe musiek

Melanie doen binnekort 'n groot vertoning by Oos-Rand by die Woord en Lewe Gemeente. Foto: Verskaf

Melanie doen binnekort ‘n groot vertoning by Oos-Rand by die Woord en Lewe Gemeente. Foto: Verskaf

Die gospelsanger, Melanie, het pas haar tiende album, Paspoort, opgeneem en begin daarmee ʼn opwindende nuwe projek wat kinders die waarde van liefdadigheidswerk leer.

Dié projek, met dieselfde naam, is gemik op laerskoolleerders en poog om ’n geleentheid te skep vir kinders om liefdadigheidswerk te doen.

“My passie is om jong mense te leer wat dit beteken om ander te help wat in nood is en nie neer te sien op hulle of te vergeet van hulle nie,” het sy gesê.

Die sanger het onlangs ʼn breuk van drie jaar uit die musiekbedryf geneem. “Ek kon werklik die drie jaar gebruik om te dink oor wat ek werklik wil doen. Ek is intussen getroud, en my man het my net aangemoedig om my passie uit te leef. Dié passie is om vir kinders te sing en hulle te leer.”

Sy sê die projek is baie interaktief en sy hoop dat kinders werklik hieruit sal leer.

“Met elke album wat aangeskaf word, word daar ook ’n paspoort ingesluit waarin kinders elke keer wanneer hulle ʼn daad van liefdadigheid voltooi het, ʼn stempel kan druk. Daar is ook ʼn gebed in die paspoort wat jong kinders sal help om saam met hulle maats te bid,” het sy vertel.

Die sanger gaan ook as deel van die bemarkingsveldtog van die album kinders deur middel van kompetisies die geleentheid gee om saam met haar op te tree deur die loop van die projek.

Aanhangers kan na dié Afrikaanse album luister met die eerste groot optrede in die Oos-Rand by die Woord en Lewe Gemeente vroeg in April. Daar gaan ʼn paspoortstasie wees waar kinders foto’s vir hul paspoorte kan neem en vingerafdrukke kan maak. Vermaak soos springkastele gaan ook beskikbaar wees. Dié konsert is gratis.

As jy wil hê jou skool moet betrokke wees by dié projek, bespreek Melanie deur Hanli Minnie te kontak by  011 827 6062 of stuur ʼn e-pos aan [email protected]. Vir meer inligting, besoek Melanie se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maria van Dieweeck ·

Mag die Here jou en jou man seen vir hierdie wonderlike ding wat jy doen. n Vrou duisend wat n groot verskil aan die toekoms maak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.