Melk in jou tee

Janiné Grobbelaar van Centurion se splinternuwe gospel-album, Melk in jou tee, is kraakvars op die rak en haar inspirerende lirieke, klokhelder stem en moderne musiek gaan beslis by talle gospel-liefhebbers aanklank vind. Dit is Janiné se debuut-gospel album – sy het reeds ‘n sekulệre album Ek en Jy, uitgereik met ses liedjies uit haar pen.

Sy het nege van die twaalf liedjies op Melk in jou tee op eie houtjie geskryf en twee van die liedjies saam met twee ander liedjieskrywers naamlik Hermienke de Kock en Eric McCallaghan. Hierdie opwindende gospel-album met ‘n nuwe klank is op Jan Alleman gerig, meen Janiné. “Ek skryf oor wat ek voel en ervaar en vertrou dat dit mense sal aanraak, of hulle nou groot of klein is. Die meeste mense verwag dat ‘n mens perfek moet wees. Maar ons is nie – ek wil eg wees en opreg en daardeur sal mense terug draai na God.”

Sy het ‘n rukkie gelede besluit om ‘n gospel-album op te neem. “Toe ek baie klein was, het ek al geweet die Here het my geroep om vir Hom te werk. Maar ek het langs die pad seergekry, was kwaad, hardkoppig en het net gevoel ek is nie ‘heilig’ genoeg nie. Maar God hou nooit op roep nie en die laaste paar jaar het Hy aan my gewerk en gevorm – en ek het geweet dis nou die regte tyd.” Haar onmiddellike toekomsplanne is om Melk in jou tee te bemark en om meer in kerke op te tree. Janiné vertel dat haar man en haar kinders haar baie ondersteun. “My man, Schalk, doen my klank en help my waar hy kan en my kinders is my grootste aanhangers. As dit nie vir hulle was nie, het ek seker al lankal tou opgegooi.” Janiné, wat sangles in Centurion gee, hou van ‘n verskeidenheid van musiek wat alternatief, rock, klassiek, Queen en musiek uit die jare sewentig insluit. Kunstenaars soos Carmen, Josh Groban, Tree63, en Nianell inspireer haar. Volgens Janiné is daar beslis meer behoefte aan geestelike musiek. “Mense het ‘n honger en ‘n soektog na iets wat sin maak maar wat blywend is. Ons het nodig om onsself daagliks te anker, veral in hierdie tye.” Janiné sing van God se liefde, getrouheid en Sy krag en haar musiekstyl wissel van ligte rock tot strelende ballades.

Sy het uitstekende musikante wat haar ondersteun op hierdie kwaliteit-album. Ettiene Lane het vir die verwerkings saam met Janiné gesorg. Een ding is vir seker – hierdie is ‘n nuwe, opwindende stem in die gospel-musiekbedryf en hopelik sal hierdie talentvolle en veelsydige liedjieskrywer-sangers nog diep spore in ons plaaslike bedryf trap.

Speellys

  1. Praise³
  2. As Die Hemel Val
  3. God Is In Control
  4. Melk In Jou Tee
  5. Min Tyd
  6. U Is Daar Vir My
  7. On The Radio
  8. My Kind
  9. He Grew The Tree
  10. 1000 Rose Petals
  11. U Liefde
  12. Elke Nuwe Reënboog

Meer oor die liedjies op die album:

Praise³Ek was klaar geskryf aan die album en het ‘n voorsmaak cd’jie opgeneem sodat my vriende ens. vir my kon help kies aan die bestes. My man het my baie versigtig benader en gevra vir watse mark skryf ek. Die liedjies was net klavier en stem – nog glad nie verwerk nie. Maar na ek hom “gecorner” het en gesê het; “sê wat jy wil sê” – toe sê hy my liedjies is “gevrek”. Ek het my vererg en hierdie liedjie geskryf – en sover is dit die gunsteling!

As Die Hemel Val
Ek het verlede jaar ‘n konsert gehou en een van my studente uitgedaag om ‘n lied te skryf. Dit is ‘n liefdesverhaal tussen man en vrou waar die Here ons middelpunt is. En saam met Hom kan ons, ons ligte skyn al val die hemel en die wêreld. Hermienke de Kock is gehoor-gestrem en sy was ook al ernstig siek – sy is ‘n klein wonderwerk en sy het ‘n spesiale plekkie in my hart.

God Is In Control
Ons het deur ‘n finansiële krisis gegaan verlede jaar. My man kon nie verstaan hoekom help die Here ons nie. Hy het die MMC bygewoon waar die Here vir hom gesê het; hy moet ophou met Plan A, B, C, D – hy moet net op God vertrou. En so het hy ‘n droom gehad om ‘n bediening te begin; waar hy bandjies wat sê GIIC – God Is In Control bemark en verkoop om weer geld terug te ploeg in die samelewing. Hy’t gevra ek moet ‘n lied skryf hieroor.

Melk In Jou Tee
Na aanleiding van my man se hele ommeswaai oor hoe hy God sien en ervaar het ek besef ons het soveel om voor dankbaar te wees. Ons kla so maklik maar kyk daar is melk In jou tee!

Min Tyd
Hierdie lied het ek geskryf by my dogtertjie se ballet – ek was so gejaag en het net gevoel dit is al wat ons Ma’s doen. En hierdie is spesiaal vir al die mammas.

U Is Daar Vir My
Hierdie was Kalwerliefde op my sekulêre album. Na aanbeveling van Alex by Maranatha het hy gevra ek moet geestlike woorde skryf – en dis hoe hierdie lied sy geestelike doel bereik het. Kalwerliefde het ek geskryf toe ek 16jaar oud was en versot verlief op ‘n outjie. Ek het ook baie vra en seer gehad in my lewe – die besef om te weet God is daar vir my – dit is bevrydend.

On The Radio
Ek voel soms baie onbevoegd en het baie mense geadmireer, maar het gou besef God gebruik normale gebroke mense soos ek om ‘n verskil te maak. En om dit te hoor oor die radio – glo ek gaan ander mense help.

My Kind
Vir my stiefseun. Ons het ‘n baie slegte verhouding gehad. En verlede jaar is hy terug na sy ma toe. Ek het die foute wat ek gemaak het besef en hy dieselfde. Vandag is hy terug by ons huis en hy is my kind – en ons verhouding groei stappie vir stappie. Hierdie is ook ‘n simboliek van ons hardkoppigheid teenoor ons Hemelse Vader waar ons soms nie Sy liefde wil aanvaar nie – omdat ons te seer het. Maar as ons bereid is om te waag dan is dit die moeite werd. Ek het ‘n groot les geleer.

He Grew The Tree
Ek het groot geword met Jimmy Swaggart se musiek en hierdie is my ma se gunsteling. Ons het ook nie ‘n fantastiese verhouding gehad nie, maar God het dit kom herstel. As kind het ek klavierlesse geneem en my ouers het vir my Jimmy Swaggart se musiek boeke gekoop. En sy was mal daaroor om hierna te luiste wanneer ek dit vir haar op die klavier speel. Vandag, omdat ‘n wonderwerk wil vier het ek hierdie lied verwerk en spesiaal aan haar opgedra. God is getrou.

1000 Rose Petals
Ek het ‘n baie onstellende droom gehad. Maar op die einde van die droom het ek hierdie woorde gehoor. Ek het opgestaan die droom neergeskryf. Na ‘n dag of wat het ek die woorde neergeskryf en net verder en verder aan die lied geskryf. Ek verstaan vandag die droom en die krag van dit wat Jesus vir ons gedoen het.

U Liefde
Ek het gedink ek moet dalk ietsie skryf wat maklik is en dalk ‘n aanbiddingskoortjie is. Ek het die oggend my ma by die hospitaal gaan haal en by die apteek gewag vir haar medisyne. Hierdie gedagtes het opgekom; U liefde doen sy werk; daar is meer om voor te lewe. So is die lied gebore.

Elke Nuwe Reënboog
My student Alida Luus het verlede jaar hierdie lied gesing tydens hul revue Goue Kerf. Ek was mal oor die woorde. En wou dit graag deel maak van my album. Elle Chapman het die liedjie geskryf. .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.