Met my hart en my siel

Bianca Le Grange

Bianca Le Grange se langverwagte splinternuwe Afrikaanse album is ‘n album propvol verrassings en bevat twaalf oorspronklike, treffende liedjies wat wissel van jazz, kontemporêr tot pop. Met My Hart en My Siel is dan presies ook wat die titel sê – die musiek en die lirieke kom uit Bianca se hart en siel uit. Bianca het in samewerking met liedjieskrywers Jerome Bezuidenhout en Sammy de Waal die meeste liedjies op die nuwe album self geskryf en sy vertel opgewonde dat sy ook vir die eerste keer self vervaardig het.

Sy beskryf die album as “volwasse kontemporêr met ‘n bietjie jazz, ‘n bietjie rock en pop”. Dit is haar tweede Afrikaanse album (haar vorige Afrikaanse album Dis My Somer is in 2005 uitgereik) en haar derde album. “Ek het besluit om weer ‘n volledige Afrikaanse album op te neem omdat ek so lief is vir Afrikaans,” vertel sy. Met haar deelname aan die musiekteater-produksie Nuwe Generasie Divas het sy opnuut weer ‘n waardering vir Afrikaans ontwikkel, vertel Bianca. Sy sing oor ‘n verskeidenheid onderwerpe waaronder nuwe geleenthede, die straat waar sy groot geword het, die liefde, Wêreldbekersokker-koors, ‘n vrou wat in ‘n verhouding is waar sy ‘mishandel’ word, oor ‘n ouer en ‘n jonger vrou wat oor dieselfde man baklei en Johannesburg.

Die Soweto String Quartet ondersteun haar met die liedjie Ole yo en sy snoer ook talente saam met die gesoute sangeres Jennifer Jones met die liedjie Ek is daai vrou. Sy het altesaam twee maande aan die album gewerk en ander bekende musikante soos David Klassen (dromme), Riaan van Rensburg (perkussie) en Rikus Nel (banjo, akkordeon en konsertina) ondersteun Bianca ook op die album. Bianca, wat tydens die eerste Suid-Afrikaanse Idols as finalis naam gemaak het en daarna ook telkemale tydens die talentsoek-program Supersterre as afrigter haar slag gewys het, luister graag na jazz, pop en R&B en haar gunstelingsangers sluit Alicia Keyes, Nina Simone en Sarah Vaughn in.
Sy tree gereeld landwyd by funksies en korporatiewe geleenthede op en is in 2004 deur die tydskrif FHM as een van die sexyste vroue in die land aangewys. Sy tree ook gereeld in verhoogproduksies op en het in 2004 haar slag in Cinderella gewys en in 2008 in die pantomieme Snow White die hoofrol vertolk. Bianca het al in verskeie ander lande soos Duitsland, Nederland, Zambië, Zimbabwe en Malawi opgetree. (Storm Rekordz)

Liedjies:

  1. ‘n Nuwe land, ‘n nuwe mens
  2. Saterdag
  3. Met My Hart en My Siel
  4. Meneer de Beer
  5. Dans met die sterre
  6. Ole yo
  7. Liefdevol
  8. Joburg
  9. Die poppe gaan dans vanaand
  10. Ek is daai vrou
  11. Chlora girl
  12. Sonder jou

Meer oor die liedjies op die album:

‘n Nuwe land, ‘n nuwe mens
Elke dag is ‘n geleentheid om ‘n nuwe persoon en ‘n beter persoon te wees. Laat die verlede agter en leef vandag beter!

Saterdag
Die liedjie gaan oor die straat waar ek grootgeword het en jou tipiese Saterdagmiddag. Hou die blink kant bo – maak nie saak wat jou omstandighede is nie, hou jou kop om hoog want daar is altyd hoop.

Met My Hart en My Siel
Ek het die liefdesliedjie twee jaar gelede geskryf toe ek my ateljee gekry het.

Meneer de Beer
‘n Rock-liedjie oor mans, ek noem hulle sommer Meneer de Beer. Ons wil hê hulle moet kyk, maar kla tog wanneer hulle dit wel doen.

Dans met die sterre
Melony my goeie vriendin het my met hierdie liedjie wat sy vir my geskryf het, verras.

Ole yo
Saam met die Soweto String Quartet. Ek het nie geweet of dit gaan werk nie, maar dit het! Dit is ‘n karnival-liedjie tydens die Wêreldbekersokker-koors . Die liedjie is geïnspireer deur al die sokkergeesdriftiges wat van dwarsoor die wêreld gekom het om Suid-Afrika te ondersteun as gasheer van die 2010 Wêrelebekersokker-toernooi.

Liefdevol
Liefdesliedjies is my gunsteling – dit is altyd maklik om oor die liefde te skryf. Ek het verlief geraak op die solo’s maar het op die ou einde klavier-, kitaar- en saxofoon-solo’s gekies.

Joburg
Johannesburg is ‘n plek waar drome waar word. Ek is baie lief vir Johannesburg – dit is die hartklop van Suid-Afrika. Die liedjie is ‘n “voelgoed-liedjie” oor die plek waar ek opgegroei het. Ek is mal oor die verwerkings van die blaas-instrumente – dit herhinner my aan Sophiatown in die tyd toe blaas-instrumente die dorp laat lewe het.

Die poppe gaan dans vanaand
Die liedjie is geïnspireer deur ‘n tango wat ek in Argentinië gesien het. Dit handel oor ‘n vrou wat in ‘n verhouding is waar sy ‘mishandel’ word en sy besluit om te loop. Dit is my gunstelingliedjie op die album.

Ek is daai vrou
Saam met Jennifer Jones – ‘n vrou wat my geïnspireer het om aan te hou sing. Die liedjie gaan oor ‘n ouer vrou en ‘n jonger vrou wat oor ‘n man baklei.

Chlora girl
“Chlora” is Kaapse “slang” vir kleurling. Hierdie is ‘n prettige liedjie wat ek vir die produksie Nuwe Generasie Divas geskryf het.

Sonder jou
Nog ‘n liefdeslied. Dit is altyd pynlik om ‘n geliefde te verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.