Mia, musiekster om dop te hou  

Met die uitreiking van Mia se liedjie “Krimineel” gaan die sanger ook ’n hele paar nuwe musiekharte verower. (Foto: Picture Café.)

“Die liedjie gaan oor ’n krimineel wat skuldig bevind word daaraan dat hy iemand se liefde gesteel het. Dit beeld ’n oneindige en onverwagte liefde, wat nooit ophou nie, en hoe dit voel om smoorverlief te wees, uit. Dit is amper soos die verhaal van Bonnie en Clyde.”

So praat Mia, oftewel Mariska Pretorius, oor die betekenis agter haar eerste amptelike enkelsnit “Krimineel”, wat onlangs uitgereik is.

Hoewel dié sangeres, met haar suiwer stem, reeds 13 jaar in die musiekbedryf doenig is én self ʼn draai in die televisiereeks The Voice SA gemaak het, is dit die eerste oorspronklike liedjie wat sy aan radiostasies beskikbaar gestel het.

Die woorde vir “Krimineel” kom uit die pen van Vaughan Gardiner en volgens Mia gaan luisteraars juis daarvan hou omdat die boodskap dieper is as wat ’n mens van ’n gewone popliedjie sou verwag. “Liefde wat so sterk is, is moeilik om te vind en almal het so ’n liefdesverhaal nodig. Hierdie lied laat jou anders na die liefde kyk en die woorde praat met die hart en gee die perfekte verduideliking van die liefde in my verhouding.”

Mia. (Foto: Picture Café.)

Mia, wat in Klerksdorp grootgeword het, woon tans in Potchefstroom. Haar talent is reeds op jong ouderdom ontdek en ontwikkel en sy wou dit nog altyd met mense deel. Sy werk sedert 2008 in die musiekbedryf, nadat sy op die ouderdom van 12 ’n sangkompetisie by haar skool gewen en die geleentheid gekry het om saam met ’n bekende kunstenaar deur die land te toer.

Sedertdien het sy die verhoog al met verskeie bekende kunstenaars gedeel en opgetree by van Suid-Afrika se grootste musiekfeeste, waaronder KKNK, Aardklop, Innibos en Ek Lief Afrikaans Kaapstad, om maar op paar te noem.

“Daar was al baie hoogtepunte in my loopbaan, soos toe ek genooi is om by Ek Lief Afrikaans op te tree, en ek en ander kunstenaars op Bravo verskyn het en saam met Kurt Darren die vertoning kon afsluit,” deel sy. “Elke konsert wat ek saam met ander sterre deel, is vir my ’n groot voorreg omdat van ons vriende raak en in kontak met mekaar bly.”

Mia beskryf haarself as ’n spontane mens wat altyd die positiewe kant van die lewe probeer raaksien. Goeie lirieke en musiek met emosie trek haar aan wanneer dit by liedjiekeuses kom en dit is vir haar belangrik dat dit wat sy sing moet sin maak. Ervaring het haar ook geleer dat sukses nie maklik kom nie en dat jy moet veg, vasbyt en deursettingsvermoë moet hê om jou plekkie in die musiekson te behou.

Nádine word uitgesonder as haar grootste plaaslike rolmodel en iemand saam met wie sy nog graag eendag sou wou werk, terwyl Liezel Pieters, Elandré, Smokie, Celine Dion, Wet Wet Wet, Neil Diamond en Queen almal op haar lys van gunstelinge is.

“Net soos ek het Nádine ook op ’n jong ouderdom begin sing en kon sy en haar musiek saam groei. Sy was nog altyd getrou aan haar waardes en haar siening van die lewe. As kunstenaar sou ek graag nog saam met almal in die musiekbedryf wou werk, omdat mense se sienings en manier van dinge doen verskil,” verduidelik sy.

“Krimineel” is Mia se eerste amptelike enkelsnit, wat in Mei uitgereik is. (Foto: Picture Café.)

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, geniet sy dit om skool te hou en te werk aan nuwe musiek. Sy is juis tans besig om saam met Muse Studios se Hugo Ludik en Vaughan Gardiner aan nog ’n liedjie te werk, maar hieroor mag sy nog nie te veel verklap nie.

Net soos Johnny Depp glo dié musikant dat musiek emosies kan raak wat woorde nie kan nie, want dit is presies wat sy met haar eie musiek probeer bereik. Met die uitreiking van “Krimineel” bereik sy nie net hierdie doelwit nie, maar gaan sy ook ’n hele paar nuwe musiekharte verower.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae