Mick Jagger stel konserttoer uit vir hartoperasie

Die 75-jarige Mick Jagger op die verhoog. (Foto: Instagram via Mick Jagger)

Die 75-jarige Mick Jagger op die verhoog. (Foto: Instagram via Mick Jagger)

Die Britse rockster Mick Jagger sal volgens berigte vandeesweek ʼn hartklepvervangingsoperasie in ʼn New Yorkse hospitaal ondergaan.

Die 75-jarige Jagger en sy rockgroep, The Rolling Stones, waarvan hy die voorsanger is, is genoop om hul ‘No Filter’-konserttoer deur die VSA en Kanada uit te stel as gevolg van die ster se gesondheid.

Volgens The Daily Mail sou miljoene aanhangers, wat na raming meer as £200 miljoen (sowat R3 miljard) op kaartjies bestee het, in 17 uitverkoopte venues die groep se konserte bywoon. Die konserttoer sou oor nege weke strek en sou op 20 April in Miami ʼn aanvang neem.

Jagger volg glo ʼn streng dieet en oefenprogram en volgens bronne word daar verwag dat hy ten volle sal herstel en binnekort weer op die verhoog te sien sal wees.

Die sanger is Sondag gesien waar hy met sy tweejarige seun, Devereaux, sy dogter Georgia May en sy vriendin, Melanie Hamrick, op ʼn strand in Miami uitspan voordat hy eersdaags die operasie moet ondergaan.

Mick Jagger op die verhoog. (Foto: Instagram via Mick Jagger)

Mick Jagger op die verhoog. (Foto: Instagram via Mick Jagger)

Jagger se vriend en kitaarspeler van The Rolling Stones, die 71-jarige Ronnie Wood, het ook later die dag saam met sy vrou, Sally, en hul tweejarige tweelingdogters Gracie Jane en Alice Rose sandkastele gebou en in die water gespeel.

Jagger, ʼn pa van agt, het sy aanhangers op Twitter om verskoning gevra vir die kansellasie van die toer. “Ek haat dit om julle so teleur te stel,” het hy geskryf.

“Ek is platgeslaan dat ek die toer moes uitstel, maar ek gaan baie hard daaraan werk om so gou as moontlik weer terug op die verhoog te wees. Weer eens, ek vra groot om verskoning aan almal.”

Dit is nie die eerste keer dat die groep, wat ʼn gemiddelde inkomste van £7,5 miljoen (sowat R130 miljoen) per vertoning inbring, verplig is om ʼn konsert te kanselleer as gevolg van Jagger se gesondheid nie.

Jagger se tweejarige seun, Devereaux. (Foto: Instragram via Mick Jagger)

Jagger se tweejarige seun, Devereaux. (Foto: Instragram via Mick Jagger)

In 2016 het hy hom onttrek aan ʼn vertoning in Las Vegas nadat hy glo laringitis opgedoen het.

Hy het ook twee jaar tevore die Australasiese been van die groep se destydse konserttoer gekanselleer nadat Jagger verpletter is deur sy vriendin, L’Wren Scott, ʼn Amerikaanse stilis en modeontwerper, se selfmoord. Jagger en Scott was voor haar dood vir 13 jaar in ʼn verhouding.

Die sanger se kinders, onderskeidelik uit sy verhoudings met Marsha Hunt, Bianca Jagger, Jerry Hall, Luciana Gimenez Morad en sy huidige vriendin, Melanie Hamrick, is almal tussen twee en 45 jaar oud. Hy het in 2014 ook oupagrootjie geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hendrik van George ·

Gee nie om wie die kunstenaar is nie, maar ek kyk nie na 75 jaar oue Rockers nie. Waar gaan dit eindig?

Swartwolf ·

Rolling Stones – die beste van die beste. “Still rockin’ at 75″……..onblusbare kunstenaars.

Dries ·

17 uitverkoopte” venues”, seker daar is n Afrikaanse woord….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.