Moederstad skud vere reg vir Afrikaans is Groot

Kaartjies vir die Kaapse weergawe van die Afrikaans is Groot-konsertreeks is nou beskikbaar. Foto: Pixel Pro.

Vroeër vanjaar se Afrikaans is Groot (AiG)-konserte in Kaapstad was groter as voorheen met ’n rekordgetal konsertgangers wat dit bygewoon het. Uiteindelik is dit binnekort weer die Moederstad se beurt om AiG te verwelkom en in volle glorie te ervaar.

Met van die land se bekendste kunstenaars soos Bok van Blerk, Theuns Jordaan, Riana Nel, Karlien van Jaarsveld, Elvis Blue, Demi Lee Moore, Ricus Nel, Snotkop, Jay, Corlea, Tarryn Lamb, Dewald Wasserfall en Ruhan du Toit kan Kapenaars uitsien na musiekgenot van die boonste rakke.

Karen Zoid en Laurika Rauch is ook vanjaar weer terug en die “Vuur op die water”-sensasie, Elandré, maak vir die eerste keer sy buiging op dié gesogte verhoog. Daar wag ook ’n paar groot verrassings op gehore.

“Ons is hard aan die werk om ’n produksie van internasionale gehalte aan gehore te bied en die verskeidenheid van kunstenaars dra by tot ’n konsert wat gehore op die punte van hul stoele gaan hou,” het Barry Pretorius, regisseur van dié konsertreeks, gesê.

Bok van Blerk, wat sedert die begin deel van die konserte is, sien veral uit na die Kaapstad-konserte. “Die Kaap se gehore is altyd vreeslik lekker en ek kan nie wag om Kaap toe te kom nie. Kaapstad, maak seker ek sien jou daar,” het hy aan Maroela Media gesê.

Ook Steve Hofmeyr, wat onlangs besluit om terug te staan en nie deel van dié konserte te wees nie sodat dit wel in 2020 in Kaapstad kan plaasvind, het vertel hoe belangrik dié konsertreeks is. Volgens hom het hy besef dat Sun International nie dié konserte in hul lokaal gaan toelaat as hy nie dié besluit geneem het nie. “Ek doen dit in belang van my kollegas en ons groot produksiespan,” het hy gesê.

Die kunstenaars is egter reg om konsertgangers te trakteer met ’n konsert wat nié gou vergeet sal word nie. AiG 2020 vind op Saterdag 21 Maart om 13:00 en 19:30 en Sondag 22 Maart om 13:00 by die Grand West in Kaapstad plaas en Helpende Hand is die amptelike liefdadigheidsorganisasie wat by dié vertonings baat.

Kaartjies is slegs by Computicket, aanlyn of by Shoprite/Checkers en House & Home-winkels, beskikbaar. Die publiek word gewaarsku om waaksaam te wees teen derde partye wat kaartjies aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul Retbel ·

Ek stem. Ons bly om te bou – Solidariteit moet sommer ‘n kolossale teater area bou.

Paul Rebel ·

Ek gaan nie meer nie want Steve tree nie op nie! Ek gaan my kaartjies opskeur. Duur fout van my gewees, maar ek sal nie weer die fout maak nie – ek koop beslis nie volgende jaar weer kaartjies nie.

Noela ·

Paul jy kan jou kaartjies vir my gee voor jy dit opskeur!! :)

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.