Mogale-kunstefees vier Jakarandastad deur kunste

Antjie Krog is deel van die vlagskipproduksie, ‘Die nuwe verbond’, ‘n koorproduksie saam met die Horizons Project Choir. (Foto: Mogale Festival)

Die Mogale-kunstefees, wat vanjaar vir die eerste keer aangebied word, het ten doel om die Jakarandastad as spilpunt vir diversiteit van die kunste te vier en te vereer.

Só sê Pieter Bezuidenhout, feesdirekteur van die Mogale-kunstefees, wat van 23 tot 27 November reg oor Pretoria deur Vektor Productions aangebied word.

“Ons het besef dat kunstenaars uit verskillende kulture soveel raakpunte het, maar dat daar nie ʼn platform is om dié raakpunte byeen te bring nie. Ons wou deur dié fees ʼn platform skep waar ons die wisselwerking van en waardering vir ander kulture deur kuns kon skep,” sê Bezuidenhout.

“Daarom het ons ook die naam Mogale gekies. Dit was die naam van een van die eerste groot Tswana-stamleiers wat in die Magalies gebly het en waarvandaan die Magalies ook sy naam gekry het. Dit gee ook geografiese konteks aan die gees van die fees.”

Verskeie kurators is vir verskillende genres tydens die fees aangewys. Die digter Puno Selesho, sakeman en stigter van die gewilde Park Acoustics, Henk van der Schyff, Melissa Fontini, voorsanger vir onder meer Bittereinder, Jaco van der Merwe, die kunstenaar Willemien/Philoméne, Adelle Nqeto en Puleng Plessie maak deel uit van dié uitgesoekte groep kurators.

“Ons wou meer struktuur aan die fees gee deur elke dag op ʼn verskillende genre te fokus en ons wou ook blootstelling gee aan verskillende gemeenskappe deur die fees by verskillende venues reg oor die stad aan te bied,” sê Bezuidenhout.

Die tema vir die fees is “States of being” en ondersoek die verskillende emosionele toestande waarin daar in die stad Pretoria geleef word.

“Ons almal kan oor ʼn tydperk van selfs ʼn week dieselfde magdom emosies ervaar en dit is waaruit ons skep. Ons het gevoel dit is belangrik om ʼn goue draad te hê wat deur die fees hardloop as vertrekpunt vir ons kurators en kunstenaars om vanuit te skep. Ons het regtig baie moeite en tyd daaraan bestee om die klein goedjies te deurdink.”

Die nuwe verbond is die vlagskipproduksie vir die fees en is ʼn samewerkingsproduksie deur die komponis Antoni Schonken van Stellenbosch en die bekende digter Antjie Krog. Dit is ʼn nuwe Afrikaanse mis in opdrag van NATI en het in 2019 op die US Woordfees gedebuteer.

Die produksie het ook internasionaal gedebuteer op die Poetry International Festival in Rotterdam, Nederland. Die werk is geskryf vir ʼn koor, instrumentele ensemble, klavier en ʼn spreker. Krog tree as spreker op.

Die werk sal deur die Horizons Project Choir uitgevoer word, met Pieter Bezuidenhout as dirigent.

Vir meer inligting oor die Mogale-fees, stuur ʼn e-pos na [email protected] of besoek www.vektorproductions.co.za om die feesgids af te laai. Besoek ook die Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Hardekwas

Nee dankie.