Murraysburg-lied ʼn treffer op sosiale media

Jan-Hendrik Swiegers (Foto: Verskaf)

Jan-Hendrik Swiegers en sy tuisdorp, Murraysburg, is tans op almal se lippe nadat hy vroeër vanjaar ʼn musiekvideo op YouTube vrygestel het van ʼn liedjie wat geïnspireer is deur sy liefde vir die Karoo en die plek waar hy vandaan kom.

“Dit is vir elke Suid-Afrikaner bedoel wat al ooit empatie gehad het met boere en die moeilike tye waardeur hulle dikwels moet gaan, asook vir elkeen vir wie dit belangrik is om deel te wees van ʼn hegte gemeenskap,” verklap die musikant die rede agter dié kitstreffer waarvan die video binne slegs twee maande deur meer as 75 000 mense op sosiale media gekyk is.

Hierdie 36-jarige eiendomsontwikkelaar van die Paarl se diep stem is die perfekte pasmaat vir die nostalgiese ballade uit sy eie pen. “Murraysburg” is ʼn interessante verwerking, met ʼn moderne boere-country-aanslag, wat daaroor gaan om trots te wees op jou herkoms.

“Ek wou vir die inwoners van Murraysburg iets gee om op trots te wees, iets wat eie aan die dorp, sy mense en die omgewing is,” sê hy. “Afgesien daarvan wil ek hê dat my kinders én elke ander Suid-Afrikaner moet weet van hierdie ongelooflike dorpie, wat dit als bied, en watter spesiale gemeenskap dit is. Die lied is my manier om dit uit te basuin teenoor die wêreld.”

Dit het ʼn week geneem om die beeldmateriaal vir die video bymekaar te kry, wat in Murraysburg self verfilm is. Jean de Villiers van Daville was aan die stuur van sake, maar die gemeenskap was ook baie betrokke tydens dié opname waarin bekende inwoners, onder wie Swiegers se vrou, Michelle, en kinders, Christiaan en Karien, ook te sien is.

“Soveel mense het ons gehelp, sonder om iets terug te verwag. ʼn Oom het 800 skape in ʼn kraal gejaag, net vir my video, en die waterval op sy plaas in die Sneeuberg is ook gebruik om die prentjie af te rond. ʼn Ander boer het weer sy perdekar en perde beskikbaar gestel vir ons gebruik. Daar is ʼn gevoel van liefde in ons dorp en almal wil graag saamwerk. Ek hoop dat hierdie liedjie net meer mense na Murraysburg sal lok,” sê Swiegers.

Jan-Hendrik Swiegers (Foto: Verskaf)

Die Swiegers-ouerhuis in Voortrekkerstraat, wat deur hulle pa aan hulle nagelaat is en deesdae as vakansiehuis dien, verskyn ook in ʼn toneel of twee. “Ons wou graag die huis behou om ons kinders aan die Karoo bloot te stel. Vakansies gaan rus ons in Murraysburg. Ek braai elke aand, drink skemerkelkies saam met my vrou op die bult en ry saam met my seun motorfiets. Die huis is altyd vol vriende en familie wat die betowering van die Karoo wil ervaar,” vertel hy.

Hoewel hy hom nog lank nie as ʼn professionele musikant beskou nie, vertel Swiegers dat hy sy liefde en passie vir musiek by sy oorlede pa, Gert, geërf het wat self ʼn kitaarspeler was. Volgens die sanger vermaak hy al die afgelope 15 jaar sy vriende en familie om die braaivleisvuur en was hy verstom oor die kommersiële opslae wat sy eerste enkelsnit tot dusver gemaak het.

Omdat hy musiek as die beste manier beskou om mense te laat weet hoe hy voel, skryf hy graag oor onderwerpe en sake wat sy hart raak en hoop dat dit êrens ʼn verskil in mense se lewe sal maak. Wanneer hy musiek luister, is dit gewoonlik dieper ballades met min instrumente, en sy eie liedjies getuig ook hiervan.

Afgesien van ʼn paar nuwe liedjies is hierdie veelsydige man ook besig met eiendomsontwikkeling en bouwerk in die Wes-Kaap, by onder meer Val de Vie, en open hy ook binnekort ʼn boetiekgastehuis in Murraysburg in ʼn ou gedenkwaardige huis wat opgeknap is.

Karen Zoid is vir hom ʼn groot inspirasie en iemand saam met wie hy graag in die toekoms sal wil werk. “Ek sal graag saam met Karen ʼn liedjie wil opneem op haar program. Verlede jaar het ek haar by ʼn vertoning ontmoet. Ná groot aansporing van my vriende het ek toe op die verhoog gespring en saam met haar ‘Toe vind ek jou’ gesing,” vertel hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nouja ·

Daar is bitter min waaroor ons deesdae kan trots wees en kan besing. Welgedaan ou maat. Mag jy ‘n inspirasie wees vir ander boorlinge van hul eie nostalgiese hoekkies van hul heimat om ook oor hul eie wêrelde te dig en te sing. ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.