Musiek 2014: Hier is die bestes van die jaar

Riana Nel Foto: Facebook

Riana Nel Foto: Facebook

Nog ʼn jaar lê op sy rug en dit het tyd geword om met ʼn kritiese oog  na die musiek van 2014 te kyk.

In vergelyking met 2013 was dit opvallend dat dit hoofsaaklik gevestigde kunstenaars is wat met die beste musiek vorendag gekom het, hoewel ‘n nuweling vir die liedjie van die jaar gesorg het.

Daar was ook ʼn paar kunstenaars wat nuwe CD’s vrygestel het nadat hulle lank stil was. Onder hulle was groot name, soos Steve Hofmeyr, Laurika Rauch en André Schwartz, wat onderskeidelik drie, vier en twaalf jaar laas nuwe musiek vrygestel het.

Sommige kunstenaars se debuutalbums was dalk nie juis suksesvol nie, maar met hul tweede albums het hulle uiteindelik onder die publiek se aandag gekom. Twee van die beste groepe van die jaar was Anders en Kaleidoskoop, wie se debuutalbums nie veel aandag getrek het nie, maar wat vanjaar eindelik die erkenning gekry het wat hulle verdien het. Ampie du Preez se solo-debuutalbum is verlede jaar vrygestel, maar is vanjaar heruitgereik en ‘n paar snitte is bygevoeg.

Dit is eienaardig dat geen debuutalbums onder vanjaar se bestes getel het nie, maar daar was tog twee name wat nie voorheen op die trefferslyste was nie. Romanz het aangekondig dat hulle gaan ontbind, en Adam Barnard, wat voorheen lid van dié groep was, het sy solo-debuutalbum vrygestel. Die groot nuus was egter die Christelike supergroep Manne wat Glo, wat bestaan uit Jan de Wet, Willie Joubert, Leon Ferreira en Dewald Gouws.

Daar is ʼn aantal nuwe kunstenaars wie se debuut-enkelsnitte vanjaar verskyn het, en wie se debuutalbums aanstaande jaar uitgereik behoort te word. Joe Foster het teen die einde 2013 weggebreek van die groep Adam en die titelliedjie van die rolprent Pad na jou hart geskryf en gesing. Dit het egter eers aan die begin van 2014 ʼn treffer geword.

Leah se eerste treffer, Ek moes jou gesoen het, het ook uit ‘n rolprent gekom, naamlik As jy sing, waarin sy ook ‘n rol vertolk het. Daar is groot opgewondenheid oor haar debuutalbum wat vroeg aanstaande jaar vrygestel word.

Sharoney het al drie enkelsnitte vrygestel, maar omdat haar debuutalbum nog nie by Maroela Media uitgekom het nie, sal daar eers aanstaande jaar ‘n resensie daaroor geplaas kan word.

Die enigste werklik nuwe kunstenaars wat wel  albums vrygestel het, is Candy Benson en Kleefklank. Candy se album, Niks kan my keer nie, het al twee treffers opgelewer en ‘n derde een behoort binnekort op die Top 20 te wees, maar weens strawwe mededinging is hierdie album nie onder die eerste 20 nie. Kleefklank se gelyknamige debuutalbum is net by vertonings beskikbaar, en Maroela Media het nog nie ʼn resensiekopie ontvang nie.

Een debuutkunstenaar wat potensiaal toon, se eerste album het pas verskyn, naamlik Dis hier dis nou van Jacqueline, maar omdat sy eers in 2015 tot die Top 20 gaan toetree, sal hierdie album saam met anstaande jaar se debuutalbums beoordeel word.

ʼn Kenmerk van die Maroela Media Top 20 van vanjaar is dat daar tien liedjies was wat 20 weke of langer op dié trefferslys was, en dit is ‘n teken van die goeie gehalte musiek wat in 2014 verskyn het.

Daar was min te kies tussen die liedjies onder die eerste vyf op die algehele Top 20, en eintlik kon enigeen van hulle die algehele treffer van die jaar gewees het.  Met soveel liedjies wat so lank op die Top 20 gebly het, was daar ook verskeie wat nie toegetree het nie, en daar was verskeie redes daarvoor. Dit was dalk omdat dié liedjies nie aan die kriteria voldoen het nie, omdat dit nie gereeld genoeg oor die radio gespeel is nie, omdat dit net in een of twee streke van die land gewild was of omdat die mededinging só straf was dat daar eenvoudig nie plek vir hulle was nie. Onder hierdie liedjies is All Blacks teen die All Blacks van Robbie Wessels, Crazy crazy crazy van Nicholis Louw, Kom ons staan saam en Crazy lief vir jou van Ray Dylan, Beautiful van Kurt Darren, Sexy baby en Onvoorwaardelik van NRG, Liggies van Armand Hofmeyr, Moenie met my mors nie van Amor Vittone, Vandag maak ek jou my vrou van David Fourie en Tema van jou lied van Jack Parow en Valiant Swart.

Daar moet ongelukkig ook melding gemaak word van twee uiters swak CD’s wat in 2014 verskyn het. ʼn Algemene verskynsel in die 1970’s was groot internasionale treffers waarvoor daar Afrikaanse woorde geskryf is, en ʼn mens het regtig gehoop dat hierdie euwel nooit weer sy kop sou uitsteek nie. Dit het egter sowaar gebeur. Alles Afrikaans  bestaan uit niks anders as hedendaagse treffers met Afrikaanse lirieke nie, onder meer Need you now van Lady Antebellum, Wake me up van Avicii, 22 van Taylor Swift en Just give me a reason van Pink saam met Nate Ruess. Daar is egter een album wat die toekenning as die heel swakste van die jaar verdien, naamlik Vegas se debuutalbum Beste tyd van my lewe. Nie net is die lirieke van die meeste snitte uiters vrot nie; die album het net hoegenaamd geen musikale meriete nie.

Hier is die Maroela Media-toekennings vir 2014:

Liedjie van die jaar: Ek moes jou gesoen het– Leah
Album van die jaar: Die regte tyd– Riana Nel
Manlike kunstenaar van die jaar: Elvis Blue
Vroulike kunstenaar van die jaar: Riana Nel
Sangpaar of groep van die jaar: Anders
Musiekvideo van die jaar: Roadtrip– Kaleidoskoop
Instrumentale album van die jaar: Countrykeys– Rocco de Villiers
Christelike album van die jaar: Manne wat Glo
Debuutalbum van die jaar: Manne wat Glo
Versamelalbum van die jaar: Afrikaans is Groot Vol. 6
Terugkeer-album van die jaar: Wals wals Willemien– Laurika Rauch
Swakste album van die jaar: Beste tyd van my lewe– Vegas
Swakste liedjie van die jaar: Gat in rat– Vegas

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annelize faasen ·

Baie goed kaleidoskoop! Mag AL julle drome waar word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.