Musiek maak harte vir landbou oop

Gerhard Kriel en Muller Brandt. Foto: Facebook

Landbou is nou maar eenmaal ʼn maak-of-breek-bedryf en daar kan nie genoeg vir die land se boere gedoen word om hulle in hul vele uitdagings by te staan nie. Die jongste uitdaging is die onlangse oorstromingskade in groot dele van Namibië, die Vrystaat en die Noord-Kaap.

ʼn Organisasie wat hulp op verskeie fronte verleen is Vriende van Landbou, ʼn nasionale ondersteuningsnetwerk wat twee jaar gelede in Bloemfontein op die been gebring is. Benewens dié Vriende se rampfonds is hul doel om die beeld van landbou te bevorder, om alle Suid-Afrikaners ingelig te hou oor die belang van die bedryf asook die invloed van landbou op die ekonomie, ons hulpbronne en op die lewens van alle Suid-Afrikaners.

Gerhard Kriel, voorheen uitvoerende hoof van Vrystaat Landbou, is aan die stuur van sake by Vriende van Landbou.

Sy ervaring van georganiseerde landbou het hom laat besef dat daar ʼn dringendheid onder die publiek is om boere te help, maar dat hulle nie altyd weet hoe om dit te doen nie. “Die mense wie se harte reg is moes gemobiliseer word,” sê hy. “Vriende van Landbou is toe as ʼn platform in die lewe geroep om momentum vir die mense te gee sodat hulle tyd, geld en kundigheid in die regte rigting gestuur kon word.”

Daarbenewens bedink hy deurlopend vindingryke planne om die wiele aan die rol te hou. In sy jongste projek het hy die uitvoerende kunste betrek. Hy het ʼn liedjie, wat die wese van boer wees en wat boere se stryd beskryf, begin konseptualiseer.

In Desember is ʼn treffende liedjie, “Vriende van Landbou”, deur die sanger Muller Brandt bekendgestel. Brandt is ʼn kunstenaar wat ernstig is oor Afrikaanse musiek van gehalte.

Kriel het Brandt tydens 2019 se Alfa-skou in Parys hoor sing en was só beïndruk dat hy Brandt daar en dan gevra het om die liedjie te skryf. Die tema van die liedjie is hoop, dankbaarheid, geloof asook eendrag onder boere en vir alle Suid-Afrikaners om as een te staan.

Die liedjie is op 22 Desember uitgereik en sedert 24 Desember op Apple Music, iTunes en Spotify beskikbaar en op YouTube en Tik Tok te sien. Luisteraars in die sentrale deel van die land gaan die liedjie ook binnekort op OFM hoor.

“Ek het ʼn passie vir ons boere en ek wil graag die groter publiek bewus maak van hul stryd en hoe maklik dit eintlik is om hulle te help,” sê Brandt. Hy is intussen aangewys as ambassadeur vir Vriende van Landbou.

“Vriende van Landbou se missie is om met landbouers hande te vat en op ’n produktiewe en sinvolle wyse mense daar buite bewus te maak van die belang van die landbousektor,” sê Kriel. “Ons bied ook ʼn helpende hand aan landbouers in nood, veral wanneer natuurrampe soos droogte en oorstromings plaasvind. Ons verskaf ook opleiding deur middel van verskeie deskundiges in die landbousektor.”

Vriende van Landbou se dienste sluit in die Posduif, ʼn GPS-opsporingstelsel, ʼn paniekknoppie, opleiding, ʼn voedsel- en rampfonds en die Veldskoen- en Koffieboon-geldinsamelingsprojek. Besoek gerus Vriende van Landbou se webwerf om meer uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.