Musiek soos Grond se unieke vertoning aanlyn te sien

Musiek soos Grond. Van links na regs is Leon Gropp, Anique Jordaan, Len Muller, Lizandra Winter, Jouba Jordaan, Liani Reynolds en Joshua na die Reën. (Foto: Hendri van Skoll Photography)

Musiek soos Grond, die musiekbeweging wat verlede jaar begin is om kontemporêre kunstenaars ʼn platform te bied om hul lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel, is vandeesweek in hul eerste aanlyn konsert te sien.

Die musikante en kunstenaars Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Leon Gropp, Len Muller, Liani Reynolds, Lizandra Winter en Douvoordag is Vrydag 4 September te sien.

“Daar is ʼn vanselfsprekendheid wat ons in die afgelope vyf maande [tydens die staat van inperking] moes leer erken, asook ons uitkyk daaroor verander sodat ons steeds vorentoe kan beweeg,” sê die groep.

Gideon Botes (kitaar), Andy Maritz (tromme), Raziela Grey en Leatitia van Wyk (strykers) het as orkeslede deel gevorm van die konsert.

“Die konsert is baie uniek in die opsig dat ons dit in twee verskillende provinsies opgeneem het. Ons was geskei van mekaar weens die Covid-19-regulasies en kon nie almal by mekaar uitkom nie. Joshua na die Reën, Lizandra, Kaleidoskoop en Leon het saam met die orkes in Gauteng in Pierneefkraal, Pretoria, opgeneem. Die res van ons het in die Kaap in Jongensdal, Stilbaai, in ʼn skuur opgeneem. Ons het daarna alles professioneel laat meng,” verduidelik Len Muller.

Ilse en Jattie de Beer van Douvoordag. (Foto: Willem Botha)

“Dit was ʼn baie eienaardige manier om dinge te doen, veral sonder ʼn gehoor, maar alles is akoesties opgeneem en dit het baie mooi uitgekom. Ons wil steeds ʼn atmosfeer van hoop en liefde skep, iets wat lig is en vir mense verligting bied. Daar is nog steeds hoop en daar is nog steeds musiek wat jou hart kan raak – en dit is wat deurkom met die vertoning.”

Hy voeg by dat die kunstenaars baie stories vertel tydens die konsert. “Ons het eintlik nie besef hoe lank baie van ons mekaar al ken nie, so ons deel stories oor ontmoetings en wat ons van mekaar inspireer.”

Die groep hoop kykers geniet dit wat hulle kon vasvang in die vertoning. “Ons behoefte en hoop is dat ons mekaar se harte kan rig in ʼn atmosfeer waar, selfs al is dit ʼn aanlyn konsert, julle sal voel asof julle by ons is. Ons hou jul harte naby ons.”

Die Musiek soos Grond-beweging het in Maart verlede jaar die lig gesien en was ‘n baanbreker in sy soort in die land.

ʼn Enkelsnit en musiekvideo getiteld “Lugballon” is ook deur die oorspronklike groep musikante geskryf, opgeneem, vervaardig en uitgereik. Dié kontemporêre liedjie, met die boodskap dat jou uitkyk op die lewe dikwels bepaal hoe jy situasies hanteer, kan steeds gereeld op radiostasies landwyd gehoor word.

Enkelkaartjies na die vertoning kos R120 en dubbelkaartjies R200. Dit is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.