Musiekdroom ná dekade bewaarheid

Fouché Wessels. (Foto: verskaf)

In 2014 het Fouché Wessels in sy matriekjaar ’n liedjie saam met een van sy vriende geskryf. Vandag, byna ’n dekade later, en na baie water onderdeur die brug geloop het, het dié liedjie eindelik die klankgolwe getref.

Fouché beskryf “Hier by my”, ’n ritmiese liefdesliedjie, as ’n hartsliedjie waarby mense maklik sal kan aanklank vind.

“Die liedjie het nadat ons hom destyds geskryf het ongelukkig ’n stille dood gesterf,” vertel Fouché aan Maroela Media.

“Die koorgedeelte van ‘Hier by my’ het egter agtergebly en baie vinnig in my kop vasgesteek.”

Deur die jare heen kon Fouché nooit werklik van die liedjie vergeet nie. Intussen het hy ʼn regsgraad aan die Noordwes-Universiteit (NWU) verwerf en sy liefde en passie vir musiek bloot verder ontwikkel.

Hy het die deuntjie van die liedjie dikwels tydens sy universiteitjare geneurie, en die aandag van sy medestudente getrek. Fouché was in Veritas-manskoshuis en het ook elke jaar deelgeneem aan sêr, ʼn jaarlikse sangkompetisie tussen die NWU-Potchefstroomkampus se kampus- en dorpskoshuise.

Die deelname aan dié kompetisie was nie vir Fouché bloot ʼn koshuisaktiwiteit nie, dit het deel van sy musiekdrome gevorm. Hy het in die ooste van Pretoria grootgeword en het deur die loop van sy hoërskooljare ook sanglesse gekry. Hy het dié lesse as student by sy koshuismoeder voortgesit.

Weens ʼn genetiese oogsiekte, optiese atrofie, is die senuwees rondom Fouché se oë beskadig en sal dit nooit weer herstel nie.

“Soos ons weet, kan kinders soms maar wreed wees en ek was soms uitgesonder omdat ek anders was,” vertel hy.

Tog, staan hy nie terug nie.

Hy droom daaroor om verder aan sy musiekdroom en -loopbaan te bou en musiek te maak waarvan mense nie net gaan hou nie, maar waarmee hulle gaan kan vereenselwig.

“Ek wil vir die res van my lewe musiek maak wat iets vir mense sal beteken. Hetsy dit is omdat hulle van my musiek hou, of omdat hulle lekker daarmee saam dans, of as gevolg van die lirieke wat iewers in hulle lewens iets vir hulle beteken het,” vertel hy.

“Ek voel sterk daaroor dat ek op hierdie aarde geplaas is om musiek te maak en ek sal tot ek my laaste asem uitblaas poog om daardie roeping vlerke te gee.”

Kyk na die musiekvideo van “Hier by my” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.