Musiekgesin eerste keer saam op die verhoog

Rina Hugo en Johan van Rensburg

Rina Hugo en Johan van Rensburg

Die gewilde en talentvolle musiekgesin – Rina Hugo, haar man, Johan van Rensburg, en hul seun, Riaan – gaan vir die eerste keer op 4 Maart saam konsert hou.

Dié konsert, gedoop Starry Nights, beloof om ʼn musiekfees onder Johannesburg se sterrehemel in die soel nasomersweer te wees.

Die gesinskonsert het momentum gekry na aanleiding van herhaalde versoeke aan die gesin vir ʼn gesamentlike optrede. “Starry Nights bied ons die ideale geleentheid om kragte saam te snoer en met ʼn nuwe aanslag te kom. Ons is baie opgewonde oor die vooruitsig,” het Johan vertel.

Saam en afsonderlik gaan die kunstenaars uit eie reg vir ʼn uiters vermaaklike musikale hutspot sorg wat van klassieke en goue gunstelinge tot byderwetse en gewilde jongmensmusiek insluit.

Die program gaan ʼn keur van dié drie se musiek en sang insluit, onder meer ʼn klassieke potjie – “The Entertainer” en die temalied van die TV-reeks Sondaarspoort, met Johan op die klavier.

Met liedjies soos “Anna se Vastrap” en “Molly en Rugby Song”, gaan Riaan sy slag as sanger én met slaginstrumente wys.

Riaan van Rensburg. Foto: Verskaf

Riaan van Rensburg. Foto: Verskaf

Saam gaan die drie sorg vir goue treffers soos “Hantamberge”, “Ver in die ou Kalahari” en “Tjienkerientjee”.

Die konsertgangers kan ook uitsien na ʼn hele paar van Rina se immergewilde liedjies soos “I feel pretty”, “Love changes everything”, “Halleluja” en “Glory halleluja”.

Die konsert vind plaas op 4 Maart by die NG kerk Andrew Murray in Orchards, Johannesburg. Die spesiale geleentheid word gehou ten bate van die Uitkoms-tehuis vir getraumatiseerde meisies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ludwig ·

Maka tog net ASSEBLIEF ‘n CD van hul optrede sodat al ons ander Rina-aanhangers wat hier in die gramnmnadoelas woon en nie by die konsetrt kan kom nie, ook daarna kan luister. Ek vra mooi!

Sumsare ·

Dit gaan n steerer geleentheid wees – hoop hul kom Kaap se kant toe ook asb!!

Pietman ·

Ek is jou sekondant Ludwig. GROOT ASSEBLIEF. Gaan n juweel wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.