Musiekster om dop te hou: Bianca Blanc

Bianca Blanc. (Foto: Verskaf)

Die musikant Bianca Blanc se sakevrou-ma het haar geleer hoe om haar tyd te beplan en hoe om te prioritiseer. Daarom is dit vir haar maklik om haar studentelewe en sangloopbaan te balanseer en al haar drome waar te maak.

Só vertel Blanc (21), wat tans aanlyn onderwys studeer aan die Noordwes-Universiteit. Haar Afrikaanse debuutenkelsnit, “Praat met my”, is onlangs uitgereik.

Hoewel sy hoofsaaklik haar eie musiek skryf, is “Praat met my” vir haar geskryf deur die bekende musikant en akteur Heinz Winckler.

Sy vertel sy het Winckler op ʼn musiekfees ontmoet en het haar platemaatskappy, Just Music, toevallig voorgestel dat hy haar eerste Afrikaanse enkelsnit skryf.

“Heinz het die liedjie geskryf asof hy my hart en lewensverhaal ken. Toe ek dit die eerste keer hoor, was dit net hy en sy kitaar, maar ek het dadelik verlief geraak op die lirieke, melodie en boodskap van die liedjie. Ek is mal oor die liedjie en ek voel dit pas baie goed by my as ʼn persoon,” vertel Blanc.

As kind het haar ouers haar blootgestel aan die musiek van The Beatles tot dié van Bach en Beethoven. “Ek het op laerskool begin met sanglesse en my ouers was nog altyd baie ondersteunend van my droom om musiek te maak. Later het ek geleer kitaar en ukelele speel.”

Al die liedjies op haar Engelse debuutalbum, Bianca Blanc, is uit haar eie pen. Sy beplan egter nie tans ʼn vollengte Afrikaanse album nie.

“Die plan is om ʼn hele rits Afrikaanse enkelsnitte uit te reik. ʼn Album is dus nie nou op die tafel nie, maar definitief iets waarnatoe ons sal werk in die toekoms.”

Sy vertel sy wou ʼn nuwe avontuur in haar musiekloopbaan aanpak deur die Afrikaanse musiekmark te betree. Afrikaanse kunstenaars soos Spoegwolf, Karen Zoid en Francois van Coke is haar grootste inspirasie.

In 2019 het sy haar gunsteling Van Coke-liedjie, “Behoort aan niemand nie”, opgeneem as deel van haar Deezer Sessions-kortspeler. Dié kortspeler bevat ook drie verwerkte snitte uit Blanc se debuutalbum en is vervaardig deur Matthew Fink.

Bianca Blanc. (Foto: Verskaf)

“Ek kon self kies watter liedjie ek graag in Afrikaans wou sing en ek het op ‘Behoort aan niemand nie’ besluit. Francois is vir my ʼn groot inspirasie en hy ondersteun altyd jong mense wat die musiekbedryf wil betree.

“Die liedjie vind aanklank by my omdat ek ʼn people-pleaser is en die liedjie gaan daaroor dat jy jou eie ding moet doen en gemaklik moet wees daarmee. Ek is baie tevrede met hoe my weergawe van die liedjie uitgekom het.”

Sy vertel sy was baie opgewonde om terugvoer van Van Coke oor haar weergawe van sy liedjie te kry. “Hy het gesê hy is mal daaroor. Dit is wat ʼn opkomende kunstenaar wil hoor: Dat die persoon na wie hulle opkyk dink dit wat hulle doen is goed. Dit het my motiveer om deur te druk in die musiekbedryf.”

“Praat met my” is op alle aanlyn platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Estie ·

Pragtige berig. Bianca het ‘n lieflike stem en dit is ‘n baie mooi liedjie. Ek hou baie daarvan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.