Musiekster om dop te hou: Carmen Basson

Carmen Basson. (Foto: Willem Botha)

Die hoogtepunt van die jong sangeres Carmen Basson se loopbaan tot dusver was toe sy in 2018 aan die derde seisoen van The Voice SA deelgeneem en die wêreldbekende sangeres Lira haar stoel omgedraai het.

Sy het die top-48 van dié sangkompetisie gehaal en is later weer ingestem vir ʼn moontlike plek in die top-17. Basson het ook vanjaar die top-20 van Maak My Famous gehaal.

Haar debuutenkelsnit “Maan toe bel” is pas uitgereik en handel oor die reis van ʼn verliefde paartjie – van saam drome droom en avonture aanpak tot herinneringe bou wat op die einde daarop dui dat hulle vir mekaar bedoel is.

Die poprock-liedjie het ʼn moderne country-invloed en is geskryf deur William Wolf. Basson was die heel eerste wenner van Wolf se Droom -kompetisie.

Basson sê sy vind aanklank by die liedjie omdat sy ook soos enige jongmens al verlief en verlore was en kan daarom vereenselwig met die tema van die lied en die opgewekte ritme van die musiek.

“Die liedjie het die potensiaal om ʼn Desember-treffer te word. Ek glo luisteraars sal daarby aanklank vind omdat die liedjie ʼn gevoel van hoop skep en dit gaan mense weer opgewonde maak oor die idee van die liefde,” sê Basson.

Carmen Basson op die ‘The Voice’-verhoog. (Foto: Facebook)

Sy het grootgeword in ʼn familie wat gek is oor gospel- en countrymusiek en het op die ouderdom van ses vir die eerste keer saam met haar oupa by ʼn ouetehuisfunksie opgetree waar sy “Sweef soos ʼn arend” gesing het.

Op die ouderdom van 12 het sy begin sing op feeste en funksies soos troues en op universiteit het sy ʼn nuwe kant van haar musiek en stem ontdek toe sy aan Sêr-kooroptredes deelgeneem het.

Basson sê plaaslik is haar grootste inspirasie die musikant Roan Ash. “Hy inspireer my en ek kan identifiseer met die tipe musiek wat hy maak. Dit is ook my droom om eendag in Nashville te kan optree, soos hy reeds het.”

Countrymusiek is haar gunstelinggenre en sy beskryf haar stem as “ou country soul”. Kunstenaars wat ʼn groot invloed op haar musiekstyl het, is Lauren Alaina, Carrie Underwood en Gabby Barret. Plaaslik luister sy graag na Riana Nel.

Carmen Basson op die ‘Maak my famous’-verhoog. (Foto: Facebook)

Die musiekvideo vir “Maan toe bel” is by Reizis Square en die Loch Logan Waterfront in Bloemfontein geskiet en vertel die storie van ʼn jong verliefde paartjie wat hulle avonture saam geniet. Dié avonture laat hulle byna in die moeilikheid beland, maar tog het dit ʼn gelukkige einde.

Hanno Hattingh, wat tans te sien is in die rol van die hartebreker-rugbyspeler Wynand in die kykNET-sepie Getroud met rugby, vertolk die rol van Basson se kêrel in die video. Jaco van Bosch van Looped Pictures het die video geskiet en vervaardig.

“Wat dit anders maak as ander musiekvideo’s is die feit dat ek elke oomblik getrou aan myself is. Ek doen presies wat ek sou doen as die kamera nie op my was nie. Wat dit so spesiaal maak, is dat niks aangeplak was nie en dat elke lag uit my maag uit was.”

“Maan toe bel” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.