Musiekster om dop te hou: Georic Lomas

In 2016 het die 22-jarige Georic Lomas as nuweling in die Afrikaanse musiekbedryf golwe gemaak met sy debuutenkelsnit, “Bazaruto”.

Die liedjie, wat sy plek as belowende jong kunstenaar in die bedryf gesement het, het selfs die no. 1-posisie op die Maroela Media Afrikaanse Top-20 bereik.

Lomas is ʼn kunstenaar in murg en been en benewens sy eie musiek, skryf hy ook vir groot name soos Jay. Hy het onlangs help skryf aan dié sanger se gewilde enkelsnit, “Ry hom soos ʼn rental”, saam met Riaan Benade en Ernest Lamprecht.

“Dit was ʼn baie lekker ervaring om deel te wees van die projek. Ek het grootgeword met Jay se musiek, so dit was ʼn baie groot eer om te kon help skryf aan een van sy liedjies,” sê Lomas.

Hy het ook onlangs sy eie enkelsnit, “Verloor”, uitgereik. Riaan Benadé het saam met hom dié liedjie geskryf. Die snit beskryf die emosies wat jy ervaar wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet en weet jy maak werklik kontak.

Georic Lomas. (Foto: Facebook)

“Die onsekerheid, opgewondenheid en vrees wat in jou kop skommel … Jy weet dadelik as daar ʼn vonkie is tussen jou en ʼn ander persoon, en dit kan allerlei emosies in ʼn mens laat ontwaak,” sê Lomas.

“Die enkelsnit handel oor al daai emosies en wat deur ʼn mens se kop gaan in daai situasies. Hierdie liedjie het baie betekenis vir my en ek hoop dat mense dieselfde emosies as ek ervaar wanneer hulle daarna luister.”

Hy verklap sy gunstelinggenre is popmusiek. “Maar ek hou van alle musiek en ek voel ʼn mens kan klanke van verskillende genres gebruik. Jy hoef nie net een genre te kies nie.”

Lomas het op laerskool reeds aan eisteddfods deelgeneem en het sy passie vir musiek ontwikkel namate hy ouer geraak het. Hy het in 2013 ook die rol van Morné in die musiekrolprent As jy sing vertolk.

Georic Lomas. (Foto: Facebook)

Die musikant vertel hy is voortdurend besig om nuwe musiek te skryf en te skep. “Daar gaan hopelik binnekort ʼn musiekvideo vir ‘Verloor’ beskikbaar wees.”

“Dit is ʼn baie energieke snit met byderwetse, unieke klanke. Dit is ʼn liedjie waarop mense lekker kan dans en partytjie hou,” sê Lomas.

“Verloor” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.