Musiekster om dop te hou: Hanru Niemand

Hanru Niemand (Foto: Dee Lou)

Hanru Niemand is ʼn veelsydige Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van die Boland, waar hy bedags ook as sielkundige praktiseer. Hy het onlangs sy jongste album, Opgrawings vir ʼn lugkasteel, bekendgestel.

As musikant het Niemand sedert 2003 stil-stil vir homself naamgemaak en spog hy amper twee dekades lank al met ʼn klein kultus-groep aanhangers. Van sy werk is ook al na Fins en Russies vertaal vir die genot van oorsese gehore.

Niemand se eerste album was Tot stilte (2006), waarna gevolg het Roepwoorde (2010) en Kreeftegang (2016).

“Die album is deels retrospektief, soos ’n argeoloog wat opgrawings doen by ’n antieke stad. Die opgrawingswerk is egter ook gelyk aan ’n postmortem wat wys hoe dinge skeefloop en verval ʼn vastrapplek gekry het,” sê Niemand.

Opgrawings vir ʼn lugkasteel bestaan soos ʼn outydse kasset uit ʼn kant A en ʼn kant B.

“Kant A (Voetstoots) bevat liedjies wat ek dikwels voor gehore uitvoer. Die idee hier was om die musiek so na as moontlik aan ʼn regstreekse aanbieding te laat klink, daarom is die kitaar en stem gelyktydig opgeneem, anders as die moderne neiging om dit apart te doen.”

Van die snitte op kant A is voorheen in ander albums ingesluit, maar Niemand sê hy wou juis weergawes van dié liedjies boekstaaf soos wat hy dit meestal aanbied – net hy, sy kitaar en ʼn bekfluitjie.

Opgrawings vir ʼn lugkasteel

“Kant B (Ruïnes) bring iets heeltemal anders na die tafel. Dit bevat vier splinternuwe liedjies. Elkeen van hierdie liedjies wentel om hoofkarakters wat hulself op die een of ander manier in die moeilikheid bevind. Hier speel ek saam met ʼn reeks wonderlike musikante wat elkeen ʼn spesiale dimensie aan die musiek verleen,” sê hy.

Die musikante wat saam met hom op Kant B optree is Wilken Calitz op viool, Riku Lätti op klavier, Mark Ellis op baskitaar, Jean Marais op tromme en Jacobus Grimm as agtergrondsanger.

Vir meer inligting oor Hanru Niemand besoek sy Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae