Musiekster om dop te hou: Jean Henry

Jean Henry. (Foto: Verskaf)

Jean Henry het Sondag nog ʼn amptelike tree in die plaaslike musiekbedryf gegee met die bekendstelling van sy heel eerste Afrikaanse enkelsnit “Waarmerk”.

Dié snit is saam met sy vriendin Rhoda-Ann Botha geskryf en gekomponeer, terwyl Wesley van der Westhuizen die verwerking daarvan behartig het. “Ons het die liedjie tydens die afsonderingstydperk geskryf. Dit beskryf hoe iemand se teenwoordigheid ʼn mens kan laat voel; iemand wat jou eie aan jouself kan laat voel en ʼn kalmte oor jou bring met sy of haar nabyheid. Ons wou dié idee in die liriek én in die musiek vasvang,” vertel hy.

Die eindresultaat is ʼn pragtige lied wat hope sentiment en verlange in die luisteraar sal aanwakker.

Jean Henry sê hoewel sy oupa ʼn goeie sanger was, is daar tans niemand anders wat ʼn musikale loopbaan in sy familie volg nie. Sy passie vir musiek het begin toe hy in 2004 as gr. 7-leerder ʼn stel tromme gekry het. As matrikulant moes hy die trommestel vir eers wegpak omdat hulle verhuis het, maar toe het hy sommer kitaar leer speel.

“Ek het aan die Universiteit Stellenbosch rekeningkunde gaan studeer, maar was maar altyd geïnteresseerd in die kunste.”

Dit was by sêr, waar inwoners van koshuise klein sanggroepe vorm en op kampus teen mekaar en ander universiteite se koshuise deelneem, waar Jean Henry sy sangtalent behoorlik kon slyp.

“Ek het vier jaar lank by Wilgenhof-koshuis sêr gesing en selfs op nasionale vlak deelgeneem. Dit is hier waar my fondament in sang behoorlik vasgelê is en waar ek meer van frasering, tegniek en die teorie agter musiek geleer het.”

Jean Henry is passievol oor musiek, maar hy is terselfdertyd ʼn gekwalifiseerde rekenmeester, ʼn entrepreneur en hou ook sy lyf model en akteur as hy nie musiek maak nie.

“Ek hou daarvan om ʼn goeie balans te vind tussen die syfers en die kunste. Dit is vir my ʼn lekker kombinasie tussen linker- en regterbreinaktiwiteite.”

Jean Henry droom daarvan om elke dag kreatief en op die verhoog te wees, maar dit is ook vir hom as kunstenaar belangrik om ʼn stabiele inkomste uit verskillende inkomstestrome te genereer, veral in vandag se onsekere tye.

“Dit help nie ek plaas te veel druk op myself as dit kom by musiek nie, ek wil eerder nou net my passie met ander deel, en tans bied die manier waarop ek dit doen vir my ʼn heerlike balans.”

Jean Henry glo sodra sy musiek uitgereik is, behoort dit ook nie meer werklik net aan hom nie. “Elke luisteraar kan dit sy eie maak. Dit is tog hoe ek na musiek kyk: dit gaan veel eerder vir my oor hoe ʼn lied jou laat voel in ʼn sekere stadium van jou lewe.”

Die sanger en liedjieskrywer is reeds besig om aan sy musiekvideo vir “Waarmerk” te werk en sal later vandeesmaand ook ʼn Engelse lied met die titel “Time” uitreik.

“Waarmerk” is op alle digitale platforms beskikbaar en lesers kan Jean Henry op Instagram en Facebook volg vir meer inligting oor sy optredes, asook jongste musiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.