Musiekster om dop te hou: JP White

JP White. (Foto: Verskaf.)

As vierjarige tjokker op Fochville in Noordwes het die sanger JP White reeds daarvan gehou om met ʼn mikrofoon in die hand sy familie en vriende te vermaak.

Vandag leef White (31) sy passie vir sang uit deur landswyd op te tree en hy het verlede jaar ʼn album getiteld Verslaaf uitgereik.

Hy het ook pas ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Hier in my hart” bekend gestel. Volgens White is hy baie trots op dié snit uit die pen van Vincent Gordon.

“Ek streef daarna om mense gelukkig te maak met die lekker vinnige ritme en diep woorde, en om almal te laat glimlag en die liefde in hul harte te laat voel,” sê hy.

“Dit gaan oor daardie een persoon wat waarlik vasgevang is in jou hart, die een waaraan jy elke sekonde van die dag dink en wat maak dat jy jouself vang glimlag vir geen spesifieke rede nie.”

White was op hoërskool deel van die rockgroep Radikaal wat in 2006 aan die Rockspaaider-talentkompetisie deelgeneem het. Die groep is uiteindelik uitmekaar toe elkeen ná skool sy eie rigting ingeslaan het en sedertdien is White ʼn solo-kunstenaar.

“Tydens die inperking het kunstenaars ongelooflik baie gesukkel aangesien ons geen vertonings kon doen nie. Dit was ʼn moeilike tyd vir almal, en dit is hoekom ek ‘Hier in my hart’ gekies het om vir mense hoop te skep in ʼn tyd waar almal negatief en bekommerd is,” vertel hy.

Die musiekvideo vir “Hier in my hart” is deur Zander de Beer vervaardig. “Dit was ʼn heerlike ervaring om die video te skiet. Ons het net met kleurpoeier gespeel en gedans. Dit was so lekker om net weer glimlagte op mense se gesigte te sien.”

“Hier in my hart” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.