Musiekster om dop te hou: Kontras

Kontras. Van links na regs is Andrew Veldman, Daniël Botha, Jacques Groenewald, Louwrens Labuschagne. (Foto: Paige Fiddes)

Die Kaapse musiekgroep Kontras is slaggereed om die harte van alle Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers aan te gryp en het reeds begin deur die moeders van die land se harte te vermurwe.

Die groep se jongste enkelsnit getiteld “Die happy song” is deur voorsanger Jacques Groenewald vir sy ma geskryf.

“Uiteindelik het dit ʼn liedjie vir elkeen van ons se ma’s, wat almal sterk vroue is, geword,” sê Arnold van der Walt, bestuurder en publisiteitsbeampte van die groep, in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“ʼn Ma het die manier om ʼn slegte situasie te vat en die lig daarin te sien en sy kry nie altyd dieselfde terug nie. Dit is ʼn sensitiewe liedjie wat vir haar sê: ‘Ma, ek sien jy sukkel en dankie vir alles wat jy doen.’”

Van der Walt sê “Die happy song” klink anders as die snitte wat Kontras voorheen uitgebring het. Dié snit volg op “Velde”, die eerste snit in hul debuutalbum, Ruimtevaarder, wat in September vanjaar uitgereik word. Hul enkelsnit “Middelklas Middelman” se musiekvideo is ook tans op kykNET te sien.

Die groep bestaan uit Groenewald, voorsanger en liedjieskrywer, Andrew Veldman op kitaar, Daniël Botha, die jongste lid van die groep, op tromme en Louwrens Labuschagne op baskitaar.

Volgens Van der Walt het die musiekgroep organies ontstaan toe hulle as vriende mekaar as deel van die private studenteorganisasie Oudemolen op Stellenbosch ontmoet het.

“Die ouens het eers as vriende saam begin musiek maak en later besef daar is ʼn gaping in die Afrikaanse musiekmark vir goeie, up and coming alternatiewe musiek. Daar is natuurlik die groot name soos Spoegwolf, Karen Zoid, Fokofpolisiekar en Francois van Coke om net ʼn paar te noem, maar daar is nie regtig nuwelinge op die toneel nie, veral in die Wes-Kaap.

“Ons wou musiek maak wat opreg is, waarop jy hard partytjie kan hou, maar ons wil ook sag en sentimenteel kan raak en bewys daar is ʼn ander kant van Afrikaanse musiek.”

Kontras. (Foto: Paige Fiddes)

Kontras het al meer as 50 000 trefslae op verskeie digitale musiekplatforms en is gereeld op radiostasies regoor Suid-Afrika soos BokRadio, MFM, KovsieFM, LekkerFM, Radio Overberg en GrindRadio te hoor.

Wanneer die groep nie musiek maak nie, werk hulle almal in ʼn mediarigting. “ʼn Groot voordeel wat die groep het, is dat drie van die vier saam op Stellenbosch woon en die ander groeplid is vyf minute ver. Jacques skryf so te sê 99% van die musiek en die res van die groep lewer dan insette en skaaf saam daaraan,” sê Van der Walt.

“Die terugvoer wat ons tot dusver kry is fantasties. ‘Velde’ en ‘Die happy song’ is die eerste twee liedjies wat uitgebring is wat in die debuutalbum sal verskyn. Dit klink heeltemal anders as die vorige sewe liedjies wat uitgebring is, wat ook nie een in die album gaan wees nie.”

Die beplanning vir die uitreiking van Ruimtevaarder was in volle swang nog voordat daar sprake van die Covid-19-pandemie was, en Van der Walt sê die groep het besluit om met die beplanning voort te gaan.

“In hierdie krisistyd is tyd heeltemal irrelevant, daarom gaan ons voort, want niemand weet wat gaan gebeur nie. Teen die tyd dat ons aan die ander kant van hierdie ding uitkom, sal dit die eerste keer wees dat ons die geleentheid kry om hierdie liedjies op die verhoog te doen.”

Hy vertel die groep het met vele name gespeel voordat hulle op Kontras besluit het. “Die groep se mantra is: ‘Ons almal is ʼn kontras – ons haat die dinge wat onsself die meeste doen’. Met ʼn naam soos Kontras hoef ons onsself nie tot een tipe klank te verbind nie.”

Kontras se musiek is op alle groot digitale platforms beskikbaar. Volg hulle ook op Facebook en Instagram of besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae