Musiekster om dop te hou: Leandra

Leandra. (Foto: Rentia Smith Photography)

Die sangeres en liedjieskrywer Leandra (29) het reeds as klein dogtertjie daarvan gedroom om eendag op ʼn groot verhoog te staan toe sy agterkom sy het ʼn sangtalent en liefde vir musiek.

As jong meisie het sy die land plat gereis om op kunstefeeste en ander geleenthede te sing, alles onder die waaksame oog en leiding van haar pa, Bertus Reinecke. Hy is einde verlede jaar ná ʼn lang siekte oorlede.

Haar broer, Werner Reinecke – self ʼn vernuftige kitaarspeler en kunstenaar – het haar altyd aangemoedig om haar drome na te jaag. Werner is egter in 2015 onverwags op 26-jarige ouderdom aan ʼn hartaanval oorlede.

“Nadat Werner dood is, was dit te seer om te sing. Ek en hy het regdeur hoërskool saam in die kerk se orkes opgetree en hy wou altyd vir my musiek skryf. Hy was een van my grootste aanhangers en ondersteuners. Die herinneringe aan hom en ons gedeelde liefde vir musiek was té rou en ek het uiteindelik al my musiektoerusting verkoop,” vertel Leandra aan Maroela Media.

Sy het haar jare lank aan haar korporatiewe werk en haar en haar man, Gregor, se driejarige dogtertjie, Leané, gewy, maar in 2018 het haar liefde vir musiek weer begin opvlam toe hulle kerkgemeente in Alberton oudisies vir hoofsangers in die kerkorkes gehou het.

Leandra. (Foto: Rentia Smith Photography)

“Toe hulle die aankondiging maak dat hulle na sangers vir die orkes soek, het my hart sommer in my keel begin klop. Ek het gevoel ek het ʼn brandende begeerte om weer te sing en my passie uit te leef,” vertel sy.

Einde verlede jaar het sy uit haar korporatiewe pos bedank en besluit om voltyds ʼn sangloopbaan aan te pak.

“Ek het ʼn besluit geneem wat nie finansieel sin maak nie, maar ek het ʼn groot stap in geloof gewaag. Ek is so geseënd dat dit steeds goed gaan met my en dat ek die kans kon aangryp om my drome waar te maak. Ek het lank gebid daaroor en ná talle bevestigings het ek geweet dit is die regte ding om te doen.”

Sy het onlangs ʼn splinternuwe enkelsnit getiteld “Free” uitgereik. Sy het die snit vir haar pa geskryf.

“Die dag van my pa se dood wou ek nie by hom ingaan in die hospitaalkamer nie. Ek was bang. Daar by die ingang van die hospitaal het ek my foon uitgehaal en die liriek vir die liedjie begin skryf. Ek wou hom vryspreek en berus daarby dat hy veilig is by Jesus,” verduidelik sy.

Sy het die liedjie sonder begeleiding op haar pa se begrafnis gesing. “Voordat hy dood is, het hy vir my gesê ek moet asseblief nooit ophou sing nie. Hy het soveel groot drome vir my gehad en ek dink hierdie liedjie sou hom verskriklik trots gemaak het.”

Leandra sê sy was eers skugter om die liedjie met mense te deel, maar ná baie aanmoediging van haar man en vriende het sy die moed bymekaargeskraap om die liedjie professioneel te laat opneem en vervaardig. Rupert van Vuuren van Little Big Studios het die opname behartig.

“Ek wou bitter graag ook ʼn musiekvideo vir die liedjie maak. Dit was nie ʼn maklike proses nie omdat ek alles self finansier. Dit was ook my heel eerste ervaring van ʼn musiekvideo, so ek was baie onseker en senuweeagtig, maar dit was ook baie lekker.”

Leandra. (Foto: Rentia Smith Photography)

Die videografie en redigering is behartig deur Maurice Loois van Audiowave Productions. Die video is verfilm by Casablanca Manor Wedding and Conference Venue net buite Pretoria.

“Soveel mense het my gehelp met borge, van my rok tot my naels en grimering. Alles het my so spesiaal laat voel en dit het my daaraan herinner dat dit die Here se wil is dat al hierdie goed gebeur en dat mense so gewillig is om my te help.”

Sy vertel sy het spesiaal prinsesrokke deur Nadia May Couture vir die video gekies. “Ek was altyd my pa se prinses. Deur my pa kon ek een van Jesus se eienskappe leer ken en dit is dat daar onvoorwaardelike liefde betrokke is – dat jy aanvaar word nes jy is en mooi is vir Hom nes jy is.”

Sy koester steeds die droom om eendag op ʼn groot verhoog te staan, sê sy. “Die Gospel Skouspel-en-Krone-verhoë was altyd my droom. Selfs al sing ek nie, ek wil net daar onder die ligte staan en voel hoe dit voel.”

“Free” is tans ʼn gewilde snit op radiostasies soos IFM, Groot FM en Radiokansel. Sy werk ook tussendeur aan Afrikaanse kontemporêre musiek.

Leandra sê sy is oorweldig oor die terugvoer wat sy oor die liedjie kry. “My hart is so sag en mense stuur vir my soveel mooi boodskappe. Ek het nie besef hoe groot die trefkrag van die liedjie sal wees nie.”

“Free” is op alle digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Manie

Baie mooi stem – Sterkte en alle sukses met loopbaan !