Musiekster om dop te hou: Red Sheep

Estian Maree en Richard ‘Max’ Koenig van Red Sheep.

Die Stellenbosse musiekduo Red Sheep se debuutalbum, Kaskenades, is pas vrygestel. Dié duo het onder meer treffers soos “Suiderkruis” en “Potch Meisie” geskryf.

Red Sheep se twee lede is Estian Maree en Richard “Max” Koenig. Estian behartig die akoestiese kitaar en ukelele terwyl Max kan toor met ʼn klavier. Albei se stemme is ook op die album te hoor.

Estian skryf die meeste van hul musiek, hoofsaaklik die Afrikaanse liedjies. Hy vertel dat hulle gaan delf het in sy arsenaal van liedjies vir hul debuutalbum, aangesien hy altyd besig is om aan iets te skryf.

Hy besing egter sy sangmaat se lof. “Max is goed met die tegniese kant en eintlik die ware musikale genie. Hy voeg al die klanke saam en kleur die liedjie in.”

“Ons style verskil, maar só bring ons die beste in mekaar uit,” voeg Max by.

Volgens die duo is die luisteraar eintlik die skrywer en elke liedjie sal op verskillende maniere betekenis aan elkeen bied. “Ons is baie opgewonde oor Kaskenades en glo dat daar iets vir alle luisteraars op die album is waarmee hulle hul sal kan vereenselwig,” sê Estian.

“Daar is byvoorbeeld die snit ‘Rondomtalie’ wat handel oor die behoefte om in te pas en die uitdaging wat elkeen ervaar om net aanvaar te word. Almal sal dan ook weer op ʼn ander manier by die liefdesliedere aanklank vind,” verduidelik Max.

Estian en Max het mekaar in 2016 by hul koshuis, Huis Visser, aan die Universiteit van Stellenbosch ontmoet. Hulle was albei deel van die koshuis se sêrgroep, Sailors, en die groep Red Sheep het in 2018 ontstaan.

“Ons naam is eintlik ʼn gesamentlike verwysing na ons hare,” vertel hulle laggend.

Max het rooi hare en word soms met Ed Sheeran vergelyk terwyl Estian lang, blonde krulhare het wat aan ʼn skaap herinner. “Estian se bynaam was nie verniet Dorper nie,” spot Max.

Hul eerste twee liedjies, “Soul Fire” en “Letter in Portugese”, is in Februarie verlede jaar vrygestel waarna hulle in Mei hul eerste Afrikaanse liedjie, “Suiderkruis”, vrygestel het.

“Die ongelooflike reaksie wat ons ontvang het met ‘Suiderkruis’ het ons laat besef wat moontlik is,” het Estian vertel.

“Suiderkruis” is ook ingesluit in die jaarlikse Afrikaans is Groot-versamelalbum wat vanjaar sy 13de verskyning gemaak het.

Red Sheep.

“Musiek is deel van ons lewe al vandat ons kon loop en ons leef die liefde vir wat ons doen uit op die verhoog.”

Red Sheep handhaaf ʼn fyn balans tussen rustige musiek en opgewekte ritmes wat die gehoor aan die gang kry. Die groep is op vanjaar se Toyota US Woordfees benoem vir die toekenning vir beste buitelugproduksie vir kontemporêre musiek.

“Dit was beslis vir ons ʼn ongelooflike ondervinding. Dit was voorwaar ʼn rondomtaliejaar, in die goeie sin van die woord, en om nou ook deel te wees van die Coleske Artists-familie is ʼn groot hoogtepunt,” het Max gesê.

Kaskenades is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.