Musiekster om dop te hou: Rooksein

Renier van der Westhuizen, Megan Danner en Dian Maritz van Rooksein. (Foto: Aldus Smith Photography)

Die lede van die jong musiekgroep Rooksein is reeds die afgelope twee jaar aan die woeker met hulle musikale talente en is nou ook deel van die Universal Musiek-familie.

Die groeplede, Megan Danner (22), Dian Maritz (21) en Renier van der Westhuizen (23), het mekaar op Potchefstroom ontmoet, waar Van der Westhuizen vir Danner en Maritz op die Puk se talentfees raakgesien het. Hy het dadelik met hulle kontak gemaak sodat hulle mekaar beter kon leer ken – en die res is geskiedenis.

Danner is van die Paarl in die Wes-Kaap afkomstig en het in die topdrie van Emo Adams se talentsoekkompetisie Maak my famous geëindig. Sy vertel die groep is baie opgewonde oor die platekontrak wat hulle onlangs losgeslaan het.

“Ons is baie opgewonde en dankbaar en die kontrak moedig ons ook aan om al hoe meer te doen. Ons wil meer musiek skryf en opneem, asook musiekvideo’s maak. Ons sien uit na wat voorlê,” sê sy.

Dian Maritz, Megan Danner en Renier van der Westhuizen van Rooksein. (Foto: Aldus Smith Photography)

Van der Westhuizen is ʼn liedjieskrywer en musikant van Rustenburg en ook die broer van die jong Afrikaanse superster Bernice West. Hy is saam met haar in haar debuutalbum getiteld Net Geleen te hoor op die snit “Eenvoud”, wat hulle ook saam geskryf het.

Hy sê die kontrak het op ʼn onverwagse tyd oor die groep se pad gekom. “Hierdie jaar was half ons maak-of-breek-jaar en toe gebeur die Covid-19-pandemie, wat alle vordering tot dusver gestuit het.

“Verlede jaar was ʼn baie goeie jaar vir ons. Ons het vyf enkelsnitte uitgebring wat ons almal self gefinansier het en uiteindelik sou ons graag by ʼn platemaatskappy wou uitkom. Ons is net drie gewone mense, plat op die aarde en lief daarvoor om musiek te maak. Dit is vir ons ʼn voorreg wanneer mense hou van wat ons doen.”

Die groep het reeds snitte soos “Rooksein”, “Kyk na my hart”, “Woordelose storie”, “Krag”, “Wees vry” en “Onthou jy die dae” uitgereik, maar beplan om dié snitte weer op te neem en uit te reik.

Die splinternuwe opname van “Kyk na jou hart” sal as die groep se eerste enkelsnit onder die Universal Musiek-vaandel uitgereik word.

Rooksein probeer uniek en nie soos iemand anders wees nie, maar beskryf sy musiek as ʼn mengsel van alternatiewe rock, folk en indie.

“Ons musiek is ʼn mengsel van elkeen van ons se persoonlike musieksmaak. Ons weerspieël ook ons ware emosies in ons musiek waarby luisteraars kan aanklank vind. Ons is doodgewone mense en as ons iets voel, voel iemand anders dit heel waarskynlik ook. Dit is lekkerluistermusiek wat jonk en oud kan geniet,” sê Van der Westhuizen.

Maritz is van Plettenbergbaai in die Wes-Kaap en is die hoofkitaarspeler en agtergrondsanger van die driemanskap. “Om ʼn unieke klank vir ʼn orkes te kry neem baie tyd – twee jaar is nie ʼn lang tyd om saam te speel nie. Ek glo ons gaan binnekort daar kom,” voeg hy by.

Dian Maritz, Megan Danner en Renier van der Westhuizen van Rooksein. (Foto: Aldus Smith Photography)

Die groep het die naam gekies nadat Danner die woord “rooksein” in een van haar woonstelmaats se gedigte raakgelees het. “Toe ek dit sien, het ek net geweet dit moet ons naam wees. Ek het gedink dit is iets heel uniek en vars,” vertel sy.

“Ons het by die diepkant ingespring en van dag een af geweet wat ons wil hê en dat ons saam wil werk om dit te bereik. Ons gel verskriklik lekker saam en het lief geraak vir mekaar. Die feit dat ons so na aan mekaar is, maak die proses baie makliker.”

Van der Westhuizen beaam dit. “Ons dink almal baie eenders, almal so half in dieselfde rigting, en verstaan mekaar. Ons het ook ʼn ongelooflike chemistry op die verhoog en kan met net ʼn vlugtige kyk na mekaar op die verhoog kommunikeer. Ons almal deel dieselfde passie en wil vir die res van ons lewe musiek maak.”

Luister hier na die oorspronklike weergawe van “Kyk na my hart”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae