Musiekster om dop te hou: Ruiter Piet

Die musikant Pieter de Jager, wat tans bekend staan as Ruiter Piet, is reeds langer as ʼn dekade doenig in die Afrikaanse musiekbedryf – eers as baskitaarspeler van die rockgroep Revolusie en daarna as voorsanger en liedjieskrywer van die folk-countrygroep Die Tuindwergies.

Nadat Die Tuindwergies hul laaste vertoning in 2014 gelewer het, het De Jager die wêreld platgereis. Dit is hier waar sy soloprojek, Ruiter Piet, ontstaan het.

Dié naam is ʼn bynaam wat hy op skool gekry het toe hy ʼn sportbesering opgedoen en op aanbeveling van ʼn fisioterapeut perdry as sportsoort begin beoefen het en later by skouspring betrokke geraak het.

“Ek het agtergekom ek is lekker lig vir die diere en kan baie cool kick flips doen met my perd. My rugbyvriende het Maandagoggende, wanneer my rosette met prysuitdelings aan my oorhandig is, vir my gerunnik en my Ruiter Piet begin noem. Van daar af het dit net gestick. Ek wou met my soloprojek soveel moontlik myself wees, en ʼn mens kan slegs jou beste wees as jy jouself is,” verduidelik hy.

Sy orkes, Die Partytjie, bestaan uit Jaco Mans (kitaar), André van Coller (saksofoon), Jason Hinch (tromme) en Duard Musk (baskitaar). Saam maak hulle voelgoed-, folk-rock-musiek met onderliggende country en Brit-pop-elemente en lirieke wat handel oor gewone mense se dinge, gevoelens en gebeurtenisse.

Ruiter Piet. (Foto: Facebook)

Ruiter Piet en die Partytjie se debuutenkelsnit, “Minnie se liedjie”, is in Maart uitgereik en is op al wat ʼn radiostasie is te hoor. Hy vertel hy het die liedjie vir sy meisie, Minnie, geskryf.

“Daar is geen geheime boodskappe in die liedjie nie, en ek dink dit is hoekom soveel mense daarby aanklank vind. Ek wou graag die eerste oomblikke van verliefdheid in ʼn liedjie vasvang,” sê hy.

Sy jongste enkelsnit, “Swaai”, is reeds in 2014 geskryf en hy vertel die liedjie lê hom baie na aan die hart.

“Dit was ʼn snaakse tyd vir my in 2014 toe een helfte van Die Tuindwergies groener weivelde wou soek. Baie mense het gedink ek is onder die indruk dat daar nie begeleiding vir my woorde is sonder die groep nie, en ek het ook amper in daardie gedagtes verval en dit begin glo. Toe kom ‘Swaai’…” vertel hy.

“Dit is die eerste liedjie wat ek geskryf het vir ʼn toekomstige solo-album. Die liedjie handel daaroor dat jy nooit moet vergeet waarom jy ʼn ding aangepak het nie. Al dwaal jy soms van die pad af, moet jy soms net stop en op die kompas kyk.

“Ek is nie ʼn groot metafoor-mens nie en skryf nie my lirieke in taalbeelde nie. Ek skryf so maklik moontlik en laat elkeen toe om sy eie verhaal in die liedjie te kry,” sê hy.

Hy voeg by dat hy gelukkig is met die terugvoer wat hy tot dusver oor die liedjie gekry het. “Ek is baie opgewonde dat ek ʼn volledige opname met ʼn volledige groep kon doen. Die saksofoon voeg ʼn lekker element by waarvan ek baie hou. Ek is dankbaar vir die goeie terugvoer, want ek het baie tyd en moeite in die projek gestort en dit is nie iets wat ek net sommer gou aanmekaargeflans het nie.”

Tydens Karlien van Jaarsveld se ‘Dekade’-vertoning.

Die sanger en liedjieskrywer het onlangs weer die geleentheid gekry om die Revolusie-snit “Onredeneerbare reinheid” saam met Karlien van Jaarsveld, destyds die voorsanger van dié groep, te sing in haar aanlyn vertoning getiteld Dekade.

“Ek wou nooit liedjies skryf om dit self te sing nie. Ek was altyd ʼn Chris Torr- en Hunter Kennedy-aanhanger. Ek wou net liedjies skryf vir ander mense en het nooit regtig gedink ek kan sing nie,” vertel hy.

Hy was 19 jaar oud toe hy Van Jaarsveld ontmoet het op Lucinda Neethling van Die Melktertkommissie se 21ste verjaarsdagpartytjie, sê hy. “Sy het gesê sy sukkel om ʼn baskitaarspeler vir haar band te kry en ek, wat toe nog nooit aan ʼn baskitaar geraak het nie, het vir haar gesê ék is die beste baskitaarspeler.

“Karlien het my destyds aangemoedig om ‘Onredeneerbare reinheid’ saam met haar te sing as ʼn duet, en ek dink as dit nie daarvoor was nie, sou ek nooit hiermee voortgegaan het nie. Ek het nou eers agtergekom die laaste keer dat ons daai liedjie saam gedoen het voor haar online show was 12 jaar gelede. Dit was ʼn massiewe voorreg.”

“Minnie se liedjie” en “Swaai” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.