Musiekster om dop te hou: Stefaans Burden neem jou na die Karoo

Stefaans Burden het reeds vyf albums onder sy naam. (Foto: Stefaans Burden/Facebook.)

Die sanger Stefaans Burden sê as daar nou maar een ding is wat ʼn mens van die Karoo weet, dan is dit dat ʼn mens te midde van moeilike omstandighede altyd nog hoop in dié plek kan vind.

Burden het vroeër vanjaar sy album Karoo Spoor bekendgestel en dit is juis die streek se nostalgie, gestroopte skoonheid en moed wat hy nou in sy musiek op dié album wil weergee.

“My musiek is eerlik en gestroop. Die liedjies vertel jou so ʼn ietsie van die alledaagse, klein goedjies wat ons so maklik miskyk, net om later te besef maar dít is eintlik die ongelooflike goed met soveel waarde.”

Burden sê die Karoo “sit maar nog altyd so in sy klere” juis omdat hy gebore is in die Klein-Karoo net duskant Oudtshoorn. Hy het as kaalvoetkind grootgeword op die plekkie met die naam Volmoed.

Die predikant van die Worcester-Vallei-gemeente sê sy liefde vir musiek was maar altyd so op die agtergrond. Hy het tien jaar gelede besluit die tyd is nou ryp om iets volwaardigs van die passie te maak. Burden, wat ook ʼn rugbyafrigter is, het in dié tyd al drie geestelike albums en nog ʼn album met kindermusiek uitgereik, maar sy vyfde album is sy eerste album wat net kontemporêre musiek bevat.

“Ek wou eintlik nog altyd oor die Karoo skryf en die liedjies het in ʼn proses van drie jaar gevloei. Op die ou einde was dit maar moeilik om te besluit watter een van my ‘kinders’ moet op ʼn album ingesluit word, maar gelukkig het Riaan Steyn my met die produksie bygestaan,” vertel Burden.

So het ʼn album ontstaan wat gevul is met liedjies vol moed wat uit en oor die Karoo gaan en terselfdertyd daarin slaag om die siel te voed. Dit is ʼn terugdink-en-onthou-album wat jou vir ʼn uur na die streek sal neem met temas van deel, liefde, moed, reën en verlange.

“Ek wou mense vir ʼn rukkie net op reis neem na hierdie spesiale gedeelte van ons land. Die musiek sal mense die kans gee om vir sowat 60 minute weer saam terug in die Karoo in te loop.

Stefaans Burdens se album “Karoo Spoor” bring jou terug na die besonderse streek. (Foto: Verskaf.)

“Die afgelope paar jaar was dit bitter droog in die streek, maar mense vind nog altyd hoop hier: soms is dit die stilte of die ongerepte natuur en ander kere is dit weer eenvoud. Daar is altyd hoop en dit maak die streek en sy mense so besonders. Ek wou net so ʼn ietsie hiervan met mense deel,” vertel hy.

Wat die album nog meer besonders maak, is dat daar drie voorlesings deur die Afrikaanse kabaret-ikoon, Amanda Strydom, op die album ingesluit is. Mauritz Lotz het Burden bygestaan op kitaar en Renate Riedermann is die violis, terwyl Dane Coetzee die tjello bespeel.

Burden sê met die afsonderingstydperk staan hy tyd daaraan af om daaglikse oordenkings saam met sy twee kollegas te maak, wat hulle aan hul gemeente verskaf. Hy het ook sy kinderalbum met 12 stories bygewerk en doen nou boekvoorlesing vir die kinders van die gemeente.

Hy vertel verder dat hy nou selfs nog meer tyd op sy knieë deurbring om te bid.

“Maar weet jy, ek dink nie dit is net sleg dat ons by ons huise moet sit en tyd saam met familie deurbring nie.

“Ek dink die liewe Vader is besig om met ons te werk, en ons gaan nog wonderlike dinge uit die krisis sien kom, want ná ʼn lydingstyd is daar altyd oorwinning. Christus moes deur ʼn lyding gaan voor Hy by sy oorwinning oor die dood gekom het; daar was ongelukkig nie ompaaie nie.”

Luister saam na die snit “Karoo Engel”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.