Musiekster om dop te hou: Stefan Jansen

Die opkomende kunstenaar Stefan Jansen se Afrikaanse debuutenkelsnit, “Verdienste en genade”, getuig daarvan dat ʼn opregte liefdeslied in jou moedertaal soms nét die regte bestanddele is vir ʼn treffer om gebore te word.

“Verdienste en genade” is uit dié Pretoriase musikant se eie pen en gaan oor sy liefdesverhouding met sy meisie. Hulle vriendskapsverhouding van die afgelope vyf jaar en sy skuldgevoelens oor hoe dinge op ʼn stadium skeefgeloop het, het hom genoop om sy gevoelens aan haar te openbaar en haar te vra om hom te vergewe.

“Ek het egter in retrospek besef die liedjie weerspieël die laaste vyf jaar en dat dit die breekpunt tussen die verlede en die hede aandui. Die boodskap van die liedjie is nie net ‘ek is lief vir jou’ nie, maar eerder ‘dankie dat jy lief is vir my’,” vertel Jansen.

Die liedjie is oorspronklik in Engels geskryf en opgeneem as “Song of silence”, maar is op aanbeveling van vervaardiger Robin Walsh in Afrikaans vertaal.

“Ek en Robin het ’n lang gesprek gehad oor die Afrikaanse musiekbedryf en het besef die mark kort dalk iets soos ‘Verdienste en genade’. Ek het ook besef as ek die Europese mark wil betree en in lande soos Nederland en België wil toer, moet ek eerder Afrikaanse musiek sing.”

Jansen het regte studeer en later sy klerkskap voltooi en twee jaar lank gepraktiseer voordat hy later in ʼn korporatiewe pos gewerk het. Hy het in September verlede jaar uit dié pos bedank om voltyds in die musiekbedryf te werk.

“Dit was ’n baie moeilike jaar, maar niemand het gesê dit gaan maklik wees om jou potjie te krap in die musiekbedryf nie. Dit is ’n rowwe paadjie wat ’n mens aandurf, maar ’n mens doen dit met jou naastes se ondersteuning.”

Hy verklap dat hy reeds besig is om te werk aan sy volgende rits enkelsnitte en dat hy nog besluit tussen twee snitte, “As ek jou onthou” en “Suikerbos”, om as sy opvolgsnit uitgereik te word.

“Dié twee snitte is beslis nie oornag geskryf soos ‘Verdienste en genade’ nie,” lag hy.

Hy vertel hy het vroeër vanjaar, kort voor die inperking weens die Covid-19-pandemie, in Switserland vir ’n vriend gaan kuier en ’n goeie idee gekry van hoe Europeërs Afrikaanse musiek beleef.

“In Switserland is daar ’n groot busking-kultuur en ek het self op die straat gaan staan en sing met my kitaar. Wat ek opgemerk het, is dat ek meer aandag getrek het wanneer ek in Afrikaans gesing het. Die mense daar hou van hoe dit klink, al verstaan hulle nie noodwendig wat jy sê nie. Ek het uiteindelik elke Afrikaanse liedjie waaraan ek kon dink van kunstenaars soos Laurika Rauch, Gert Vlok Nel, Koos du Plessis en Jan Blohm gesing.”

Daarom is hy opgewonde dat “Verdienste en genade” reeds op onder meer die Nederlandse radiostasie Radio Spannenburg gespeel word.

“My langtermyndoelwit is om internasionaal te toer na Europa, Australië en Nieu-Seeland – plekke waar mense Afrikaanse musiek verstaan en waardeer.”

Luister hier na “Verdienste en genade”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.