Musiekster om dop te hou: Werner Loots

Die lewe het sy draaie met Werner Loots tot in Londen, Engeland, gestap, maar dié Suid-Afrikaanse sanger is terug op eie bodem en sy debuutenkelsnit “Suid-Afrika” is pas vrygestel.

Hy vertel hy het dié ode aan sy geboorteland reeds in 2009 neergepen toe hy geïsoleerd van sy familie en vriende gevoel het terwyl hy en sy gesin in die buiteland gewoon het.

“Ons het in daardie stadium reeds ses jaar in Londen gewoon en dit was ʼn tydperk waarin ek Suid-Afrika baie gemis het. Dit was op ʼn manier ʼn soort lockdown vir my, weg van my land, my kultuur en my veilige hawe,” vertel Loots.

“Dit was vir my terapeuties om my gevoelens op papier neer te skryf en ek het dadelik musiek bygevoeg. Ek het egter nie weer verder daaroor gedink nie en die liedjie het vir ʼn hele paar jaar heel onder in die laai beland.”

Loots het van kleins af al ʼn groot passie vir sang en musiek. Gedurende sy skooljare aan die Hoërskool DF Malherbe in Port Elizabeth het hy as tenoor in die OP-Jeugkoor gesing. Sy eerste duet-optrede op skool was saam met sy suster, die Fynskrif-aktrise Tinarie van Wyk-Loots.

Tydens sy studentejare aan die Universiteit van Port Elizabeth (nou die Nelson Mandela Universiteit) was hy lid van die bekende Junita Lamprecht-Van Dijk se UPE-koor. In 1997 het hy as eerstejaarstudent en lid van die groep Akoestiek deurgedring tot die semi-finaal van die ATKV Crescendo-kompetisie.

Hy het oor die volgende tien jaar in Suid-Afrika en Engeland in die advertensiebedryf gewerk. In 2010 het hy en sy gesin na Suid-Afrika teruggekeer, waarna hy vyf jaar lank ʼn geestelike bediening beoefen en sy teologiese meestersgraad cum laude aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.

Werner en sy vrou, dr. Shelley Loots, en hul kinders Ben (13) en Josie (10) woon op Hermanus. (Foto: Instagram)

“Sang en musiek is nog altyd my nommereenpassie, maar daar is dinge in die lewe wat jou daarvan weerhou om jou drome uit te leef. Jy word groot, kry kinders en dan moet jy na jou gesin omsien,” vertel hy.

Sy neef, die Suid-Afrikaanse Musiektoekennings- (Sama-)benoemde musikant en liedjieskrywer William Wolf, het hom egter aangemoedig om sy drome na te jaag en “Suid-Afrika” onder uit die laai te krap en af te stof. Wolf het al verskeie trefferliedjies vir sangers soos Brendan Peyper, Pieter Koen en Willem Botha geskryf.

Die liedjie is in Januarie vanjaar opgeneem en die musiekvideo tydens die afsonderingstyd in Suid-Afrika vervaardig. Met die staat van inperking moes Loots kreatief te werk gaan om ʼn video saam te stel wat die emosies wat die land by mense opwek, sal uitbeeld.

Hy het besluit om die hulp van mense oor die hele Suid-Afrika heen vir beeldmateriaal in te span. “Te danke aan vriende en kennisse − én wildvreemdes wat gehelp het met nuwe en bestaande beeldmateriaal van oor Suid-Afrika heen – en die wonder van tegnologie, kon die video in ʼn betreklike kort tyd saamgestel word,” sê hy.

“Die terugvoer oor die liedjie het my oorweldig,” vertel die sanger, wat selfs terugvoer van die sangers Jannie du Toit en Jan de Wet gekry het.

“Suid-Afrikaners het my uit alle uithoeke van die aarde genader en gesê wat die liedjie vir hulle beteken. Wildvreemde mense, maar ook my familie en vriende. Daar was selfs Engelse mense en twee Xhosasprekende vroue wat vir my gesê het die liedjie roer hulle, al praat hulle nie Afrikaans nie,” sê hy.

“Die liedjie spreek tot mense se nostalgie en liefde vir die land. Mense verlang erg huis toe en kan my eie nostalgie aanvoel en hulle daarmee vereenselwig.”

“Suid-Afrika” is op alle digitale platforms beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.