Musiekvideo: Adam Tas, Neil Somers besing SA’ners se karnivoriese gewoontes

Die sangers is onherkenbaar as twee grotmanne in die musiekvideo van hul jongste enkelsnit. (Foto: Verskaf)

Het jy al ooit ʼn grottekening van ʼn slaai gesien?

Die rasperstem sangers, Neil Somers en Adam Tas, het besluit om met hul prettige nuwe enkelsnit, “Vleisvreters”, wat reeds op alle stromingsdienste beskikbaar is, ʼn bietjie met Suid-Afrikaners se karnivoriese gewoontes die gek te skeer.

Hulle het in die Maroela Media-ateljee oor dié nuwe lied, en sy ietwat growwe gepaardgaande musiekvideo kom gesels.

Neil, wat veral bekend is vir sy trefferlied “Silwer kombers”, vertel dat ʼn humoristiese meme die inspirasie vir dié enkelsnit was. “Dit gaan nie noodwendig net oor braai, brandewyn of kuier nie, maar oor die meerderheid van Suid-Afrikaners se liefde vir ʼn ou vleisie.”

Conrad Theron, ʼn vervaardiger van Adam se aanlynprogram, Byt & Buskruit, het dié lied onder die Afrikagrond-sanger se aandag gebring toe Neil as ʼn gas daarop verskyn het.

“Ons het sommer dan en daar, tydens verfilming in Botswana, begin planne maak om dit op te neem. Beide van ons word geken aan ons diep en meer ernstige liedjies, maar toe besluit ons dat ons ook net ʼn bietjie pret wil hê, en ʼn lekker lied wil sing waarby mense sal aanklank vind. Hierdie is ʼn lekker ‘rock-and-roll-stamp-jou-voete-lied’,” meen Adam.

“Ons het baie van dieselfde belangstellings, en ek het gedink ons stemme sal ook goed saamwerk. Alles het op die ingewing van die oomblik gebeur, maar dit het toe goed uitgewerk,” voeg Neil by.

Conrad het ook die regie behartig van “Vleisvreters” se musiekvideo, wat by Leeuwenkloof buite Hartbeespoortdam verfilm is. Die konsep van die musiekvideo is deur die lied se lirieke geïnspireer.

“In die lied sing hulle ‘noem my maar Neandertal’, en ons besluit toe om Adam en Neil soos die oorspronklike jagters en vleisvreters te laat lyk, eerder as wat hulle net hulself speel. Dit lyk werklik soos ʼn uitbeelding van die begin van die mensdom, ek dink kykers gaan lekker verras wees,” het Conrad oor die musiekvideo gesê.

Adam Tas, Neil Somers en Conrad Theron. (Foto: Verskaf)

Die grimeerkunstenaar, Lieschen Koch van Lieke Studios, het drie uur geneem om hulle in twee harige grotmanne te verander, en die sangers moes ook hul beste grotman-danspassies en bewegings vir die musiekvideo uithaal.

“Hierdie is ʼn uiters unieke en speelse video. Ek het nog nooit só iets in die Afrikaanse genre gesien nie. Dis alles lekker tong-in-die-kies,” voeg Adam by.

Op die vraag of hulle bang is vir die blaarvreters se “byt”, sê dié sanger skertsend: “Ons sal nie vir hulle terugstaan nie. Jy kan jou blare geniet, moet net nie vir my sê wat ek mag en nie mag eet nie.”

Kyk na die musiekvideo hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Truman Burbank ·

Net toe ek dink SA musiek het n laagtepunt bereik, sien ek die artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.