Musiekvideo: Afrikaanse kunstenaars span saam vir ‘Ons sal self’

Demi Lee Moore en Steve Hofmeyr. (Foto: Skermgreep uit video)

“Kunstenaars het die geneigdheid om in die hart van ʼn gemeenskap te kyk en dit dan te verwoord.”

Só sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, oor die groep Afrikaanse kunstenaars wat kragte saamgesnoer het om die nuwe enkelsnit en musiekvideo getiteld “Ons sal self” op te neem vir die bekendstelling van Solidariteit se nuwe Werkherstelprogram.

Dié program fokus op die drie steunpilare waarop Afrikaners se voortbestaan rus: werk, welstand en opleiding. Die Werkherstelprogram is vandag (Donderdag) bekendgestel. Die veldtog se hutsmerk is #OnsSalSelf.

Die liedjie “Ons sal self” is geskryf deur Riaan Benade, Marno van der Merwe en Arnold Coleske. Die musiekvideo is deur Christiaan Wolf behartig.

Charlize Berg, Chris Else, Corlea, Demi Lee Moore, Dewald Wasserfall, Gerhard Steyn, Ivan Roux, Jay, Lianie May, Liezel Pieters, Monique Steyn, Riaan Benadé, Ruhan du Toit, Steve Hofmeyr, die nuweling Tasha en die duo Touch of Class is almal deel van dié veldtog.

Skermgreep uit video.

“Dié groep kunstenaars het ʼn bietjie gekrap in hulle historiese DNS en ʼn antwoord gekry: Ons sal self. Dis lekker om te sien hoe kunstenaars op die voorpunt van die golf van die gemeenskap is,” voeg Hermann by.

“Die veldtog is ʼn antwoord op die feit dat ons nie meer op die staat kan staatmaak nie. Enersyds kan dit ʼn mens benoud maak, andersyds maak dit jou vry, want ons sal self.”

Die krisis waarin die Covid-19-pandemie en die ontmaskerde staat ons dompel, plaas ons gemeenskap weer voor ʼn historiese uitdaging, sê hy.

“Dit is ons geslag se verantwoordelikheid om ʼn oplossing te kry. Die opstand ná die Anglo-Boereoorlog, die Helpmekaar-beweging ná die 1914-rebellie en die Reddingsdaadbond ná die 1930’s se depressie en armblankevraagstuk was alles reaksies op ʼn krisis. Nou is dit ons geslag se beurt om op te staan,” sê Hermann.

“Solidariteit het groot planne vir ons en ons mense,” sê die sangeres Charlize Berg oor die liedjie.

Riaan Benadé. (Foto: Skermgreep uit video)

“Ek is verlief op hierdie liedjie. Ek dink dit is so ʼn kragtige liedjie met ʼn kragtige boodskap wat ons almal nou nodig het om te hoor.”

Demi Lee Moore sê die liedjie maak haar opgewonde omdat soveel mense daarby kan aanklank vind. “Een ding wat ek kan sê van Suid-Afrikaners is dat ons nooit gaan lê nie. Maak nie saak hoeveel keer ons op die grond gegooi word nie, ons sal altyd opstaan en ons doen dit sélf.”

Riaan Benadé, een van die skrywers van die liedjie, beaam dit. “Ons as Afrikaners het ʼn soort deursettingsvermoë wat ek by min ander al gesien het. Ons is hardwerkende mense en daar is nie eens ʼn bietjie twyfel binne my oor dít wat ons nog alles in die toekoms kan vermag nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Janine ·

Uitstekend! Trots Afrikaans en super trots op ons sangers!

Debbie ·

Fantasties – Nou nog net ‘n konsert op ‘n boer se plaas – net soos ons kan – met ‘n braai en ‘n slaai
– wat van die 16’e Desember 2020?

Karin ·

Debbie, beslis nie die 16de Desember nie, dit herdenk ons soos ‘n sondag.

Net ek ·

Dis vreeslike mooi, goed gedoen al die AFRIKAANSE kunstenaars. Soos altyd sal die AFRIKANER self!!!

Pixie ·

Enige iemand wat dalk die lyrics van die song “ons sal self” het, asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.