Musiekvideo: Alter Ego vra retoriese vrae

Alter Ego.

Die tweelingbroers, Justin en Darren Oates, bekend as die sangduo Alter Ego, se splinternuwe enkelsnit en musiekvideo, getiteld “Was dit jou plan?”, is pas uitgereik.

Aanhangers sal beslis aanklank by dié pop-rock‑snit met elemente van elektroniese dansmusiek uit die tagtigs vind.

“Was dit jou plan?” is deur Justin geskryf kort nadat ’n verhouding op die rotse beland het.

“Ek het die liedjie begin skryf na ’n verhouding verbreek is en die lirieke vra die vraag of ’n mens mekaar ooit weer sal sien in hierdie lewe of in die volgende een, en of als nou verby is,” vertel Justin.

“Die liedjie is eintlik aan myself geskryf vanuit die meisie se perspektief. Ek het my probeer indink watse emosies sy op daardie stadium moes beleef het. Dit was binne die eerste week nadat ons uitgemaak het, en dinge was nog baie rou en seer – van my kant af ook.”

Die koorgedeelte van “Was dit jou plan?” vra die retoriese vrae ná die verbrokkeling van ʼn verhouding, wanneer ’n mens wonder of daar ooit regtig iets was en of jy net gebruik is om ’n gaping in iemand se lewe te vul, verduidelik Justin.

“Ek het definitief nie beplan om hierdie liedjie te skryf nie. Ek dink dit was ’n natuurlike manier vir my om my emosies te verwerk.”

Justin het die raamwerk vir die liedjie se lirieke en melodie geskryf, terwyl Darren die struktuur en afronding behartig het.

“Die liedjie is eintlik geskryf as ’n klavierballade, maar dit het in die ateljee verander. Denholm Harding, wat die liedjie vervaardig het, het die klank ontwikkel in ’n meer ritmiese snit. Die klank en produksie is jonk, lighartig en vol energie, wat altyd ’n kenmerk van ’n sterk enkelsnit is.”

“Was dit jou plan?” is vars, met ’n dieper boodskap.

“Die liedjie filosofeer oor verhoudings en die moeilike vrae waarmee ’n mens moet worstel as dit nie uitgewerk het nie, met die gedagte wat wonder of ’n mens ooit ’n kans sal kry om vrede te maak of dinge uit te kan praat.”

Elektroniese dansmusiek uit die tagtigs is ’n genre wat internasionaal baie gewild word en dit is vir Alter Ego belangrik om Afrikaanse musiek met internasionale tendense te belyn.

Die duo glo daar is ’n Afrikaanse musiekmark wat van jong, alternatiewe pop-rock met diep, skoon lirieke hou.

“Ons hoop en glo dat die publiek, wat oor die algemeen ook na internasionale musiek luister, die liedjie as iets vars vir die Afrikaanse mark sal beleef – iets met diepte in die lirieke, maar steeds met passie en energie wat jou kan inspireer.

“Ons wil emosies in ons luisteraars wakker maak wat hulle laat jonk en lewendig voel. Ek wil ook met ons musiek graag ’n positiewe kultuurverskil vir Afrikaans maak sodat mense geïnspireerd deur en trots op hulle taal voel,” sê Darren.

Die musiekvideo vir “Was dit jou plan?” simboliseer die vrae wat onbeantwoord gelaat word wanneer ’n verhouding eindig.

Alter Ego.

Die feit dat die broers ’n tweeling is, word duidelik uitgebeeld. Justin is geklee in swart om die moeilikhede in ons lewe op aarde en die frustrasie voor te stel. Darren is in wit geklee om dieselfde persoon in die hiernamaals voor te stel wat na homself in die hede kyk.

“In kontras met hoe ’n mens normaalweg ingestel is, word die lewe dié keer met swart voorgestel en die dood met wit. Dié kontras spreek ook ons definisie van die lewe en dood en ons uitkyk daarop aan.”

Ter wille van die beligting is die video hoofsaaklik oor ’n tydperk van ses aande by ’n huis in Irene, Pretoria, geskiet, waar die een kamer rondgeskuif en op verskillende maniere belig is om verskillende stelle te bou.

Die skoot van die televisie wat brand, is geneem op die grasperk buite dieselfde huis, waar ʼn gordyn aan ʼn raam gehang is sodat dit steeds lyk of die televisie in die huis is. Die video is deur Jaen Kleynhans en Jan du Plessis vervaardig. Amy-Lee Groen tree as danseres in die video op.

Die Oates-tweeling het in 2019 as meganiese ingenieurs aan die Universiteit van Pretoria (UP) gegradueer.

Hulle spesialiseer in motorvoertuigingenieurswese en is dan ook self vurige motorsportdeelnemers wat reeds op vyfjarige ouderdom nasionale vlak betree het en in 2015 aan die VW Polo GTI Cup Series begin deelneem het.

Hulle het sowat 14 jaar gelede begin klavier speel en in 2016 musiekopnames begin maak en het in 2021 amptelik die Afrikaanse musiekbedryf betree.

Die broers is dit egter eens dat hulle nie daarvan gedroom het dat hulle eendag professionele musikante sou word nie.

“So iets was egter definitief nie eers in my verwysingsraamwerk nie. Niemand in ons huis was in die musiekbedryf betrokke nie en ek het definitief geen benul gehad oor wat dit eers sal behels nie,” vertel Justin.

“Ek en my broer het wel teen einde van ons laerskoolloopbane begin klavier speel, merendeels omdat my ma gesê het dit nodig is om keuring by die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria te kry, waar ons op hoërskool was. Dit was definitief nie die waarheid nie,” lag hy.

“Ons het op 11‑ of 12-jarige ouderdom begin klavier speel, en meer tyd aan ons eie komposisies deurgebring as om ons Unisa-stukke te oefen,” voeg Darren by.

“Die gevoel wat musiek in ’n mens kan wakker maak, is iets wat niks anders op aarde kan doen nie. Ons passie is om musiek in ons eie land en taal te skep wat inspirasie kan bring vir ander.”

In hulle kort tyd in die musiekbedryf het hulle reeds baie geleer, sê hulle. Die groep is ook onlangs vir Pretoria FM se Aitsa-toekennings benoem in die kategorieë vir nuweling van die jaar en alternatiewe of rock-liedjie van die jaar vir die snit “Verlore”.

“Was dit jou plan?” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.